Suid-Afrikaners geniet hoë eiendomstandaarde

Suid-Afrikaners geniet steeds ‘n buitengewone hoë lewenstandaard in vergelyking met hulle Europese eweknieë wat eiendom betref, ondanks die feit dat plaaslike eiendomswaardes die afgelope paar jaar bykans verdubbel het.
Gerhard Kotzé, uitvoerende hoof van die ERA Suid-Afrika eiendomsgroep, sê ‘n onlangse besoek aan Switserland het dié feit duidelik onderstreep.
“In ons land is ons natuurlik almal daarvan bewus dat ons eiendom goeie waarde bied, veral ten opsigte van sterk valuta soos die Switserse frank en sterling. Nogtans was die verskille en die voordele wat ons in ons deel van die wêreld geniet in vergelyking met die lewenstandaard in Switserland opvallend.
“Al laat ‘n mens faktore soos die natuurskoon van die land, veiligheid en die beroemde Switserse doeltreffendheid buite rekening, bly die feit staan dat hulle eiendom peperduur en tipies baie beknop is.
“Die prentjies wat ‘n mens op sjokoladedose sien toon groot chalets op groen heuwels. Maar in werklikheid woon daar gewoonlik twee of drie gesinne in so ‘n eiendom. Boonop is eiendomme van niks meer as 40vkm algemeen en ‘n ‘groot’ eiendom is gewoonlik so 70 tot 80vkm – ‘n grootte wat ons in Suid-Afrika as klein sou beskou.”
Kotzé sê daar is ook reuse verskille wat pryse betref. “My navorsing toon dat ‘n ouer eiendom vir rondom CF10 000/vkm sou verkoop. ‘n Eiendom van 40vkm – wat eintlik nie veel groter as ‘n klein eenmanwoonstel is nie – sal CF400 000 kos, wat teen die heersende wisselkoers omskakel na byna R2,5m. ‘n Nuwer eiendom sou teen sowat CF480 000 of bykans R3m verkoop.
“Pryse wissel ooglopend van gebied tot gebied, soos in enige ander land, en dieselfde geld vir die persentasie mense wat eiendom besit. In ‘n groot stad soos Zurich is byvoorbeeld net sowat 5% van die eiendom in private besit – dit behoort meestal aan welgestelde individue, versekeringsmaatskappye en die stadsraad.
“Wat verder interessant is, is dat daar in ‘n vakansiedorp soos Engelberg ‘n aantal Suid-Afrikaanse eienaars is, wat die feit onderstreep dat ons topverdieners steeds groot inkomstes het – selfs in internasionale terme.”

Want to Receive Weekly Kwevoel Updates in Email?

We don’t spam! Read our privacy policy for more info.