General

Skep vars idees vir ‘n besonderse liefdesdag

Mans en vroue is nou maar eenmaal uiteenlopende wesens. Hierdie verskil word duidelik met die aanbreek van Valentynsdag en die koop van geskenkies.

Geykte idees vir Valentynsdag het deesdae die maklike opsie geword en enige persoon, veral mans, in ‘n vaste verhouding wat moeilikheid wil ontduik, kan by die naaste winkel inspring en binne oomblikke ‘n gepaste item van die rak af kry. Ongelukkig bly oorspronklikheid en sentiment dikwels agterweë.
Stap jy enkele weke voor Valentynsdag by enige geskenkwinkel in, sien jy die tipiese simbole vir dié dag dadelik raak. Rooi harte en rose op alles – van teddiebeertjies, sjokolade, badseep, ekstra-grootte kaartjies, tot joernale. Dít is die maklike uitweg en gee jy dit vir jou Valentyn, is die kans goed dat hy/sy gaan dink jou idee is ongeïnspireerd en ondeurdenk. Dink vanjaar verby die vanselfsprekende idees en gee jou Valentyn iets besonders. ‘n Smaakvolle idee kan dikwels die knoop deurhaal sonder om ‘n plaas se prys te kos.

Slaan haar voete só onder haar uit.
1) Klassieke idee: ‘n Teddiebeer. Vars idee: Bederf haar met ‘n koopbewys by ‘n skoonheidsalon, wat ‘n massering, manikuur en gesigsbehandeling insluit. Daar is slegs enkele vroue wat dié gebaar nie sal waardeer nie. Dan, wanneer sy by die huis kom, los vir haar ‘n groot pakkie op die bed, met ‘n rok of uitrusting waarop sy haar oog gehad het.
2) Klassieke idee: Rooi rose. Vars idee: Gee haar, in plaas van rooi rose, rose in verskeie kleure. Doen vooraf moeite om uit te vind wat die simboliek agter elke roos is en vertel haar hoekom jy elke roos aan haar gee.
3) Klassieke idee: Ontbyt in die bed. Vars idee: Hou ‘n week lank Valentynsdag. Los elke dag van die week, voor 14 Februarie, ‘n klein geskenkie onder haar kopkussing waarmee jy vir haar sê hoeveel sy vir jou beteken. As dit vir jou te duur is, gebruik spesiale notas in plaas van geskenke.
3) Klassieke idee: Slegs ‘n kaartjie Vars idee: ‘n Loterykaartjie. Maar nie ‘n gewone een nie. Kies al die spesiale datums wat vir julle albei belangrik is – die eerste afspraak, die eerste soen, die datum van jul verlowing, jul troudag… dit sal haar wys dat dié dae vir jou net so belangrik is as vir haar.
4) Klassieke idee: ‘n Duur ete Vars idee: Berei vir haar ‘n tuisgemaakte ete voor. En moenie sê jy kan nie! Vra jou ma of suster om vooraf vir jou te wys hoe om ‘n paar lekker disse voor te berei. Dit hoef nie ingewikkeld te wees nie, maar sorg dat die nagereg ‘n treffer is én sjokolade bevat.
5) Klassieke idee: ‘n Fotoraam vir die sitkamer Vars idee: Nuwe gordyne vir die sitkamer! Moet dit liefs nie self kies nie, maar neem haar eerder op Valentynsdag om vir haarself splinternuwe gordyne en bankoortreksels by Drapes in Mall@Reds te gaan uitkies. ‘n Vrou se huis lê haar na aan die hart en met dié gebaar sal jy haar laat voel dat jy haar verstaan en regtig gedink het aan wat sy graag wil hê. Kontak Drapes by: (012) 656 7121.

Slaan sy voete só onder hom uit.
1) Klassieke idee: ‘n Nota in sy kar se ruit. Vars idee: Notas met redes hoekom jy vir hom lief is, oral weggesteek – sy broeksakke, hempsakke, kussingsloop, inbox op sy selfoon…
2) Klassieke idee: ‘n Love Ballad CD. Vars idee: ‘n PowerPoint aanbieding wat jy self gemaak het, met foto’s van julle twee, mooi herinneringe uit julle verhouding en redes hoekom jy mal is oor hom.
3) Klassieke idee: Naskeermiddel en ‘n skeermes. Vars idee: Gee hom ‘n tuisgemaakte koopbewys vir ‘n afspraak by jóú ‘salon’! Bederf hom met ‘n voetbehandeling, massering, en gee hom ‘n egte, romantiese outydse skeersessie, met ‘n lem en ‘n kwas (as hy jou genoeg daarmee vertrou!).

4) Klassieke idee: ‘n Sagte gorilla speelding Vars idee: Reël vir hom ‘n manlike uitstappie by Pilanesberg. Sluit aan by ‘n begeleide toer waartydens ‘n wilde dier verdoof word om bv. ‘n besering te behandel of vir navorsing. Jy kry dan die geleentheid om dit in die natuur waar te neem en self aan die dier te raak. Hy sal mal wees oor die idee dat jy hom die geleentheid gee om die natuur eerstehands te ervaar.
5) Klassieke idee: ‘n Aksiefliek-kaartjie. Vars idee: Probeer ‘n aksiesportsoort saam met hom! Iets soos rotsklim, hangsweef of valskermspring. As hy iets van die sportsoort af weet en jou kan leer, sal dit hom goed laat voel. Die feit dat jy jou vrese opsy sal skuif in ‘n poging om so iets saam met hom te doen, sal hom aanspoor om sy waardering teenoor jou te toon.
6) Klassieke idee: ‘n Besigheidskaartjiehouer. Vars idee: ‘n Nuwe skildery vir sy kantoor. Neem hom na ‘n kunskafee, vir ‘n lekker liefdesontbyt. Sê daarna aan hom dat jy vir hom nog ‘n verrassing het, en dat hy sy eie skildery vir sy kantoor by dieselfde winkel kan uitkies. Elke keer wat hy daarna kyk, sal hy aan jou dink.
Wat ookal jy doen, onthou dat woorde enige mens se hart kan omtower. Gee, saam met jou geskenk, ‘n spesiale kaartjie om hom/haar net weer te herinner aan hoe lief jy vir hom/haar is!