Respek vir mekaar – Gert Kok (ds)
Dit is vir my baie hartseer om hierdie skrywe aan u te rig oor mense se gebrek aan respek vir ander. Oor die afgelope paar jaar bemerk ek ‘n tendens wat net al hoe erger word. Mense is nie bereid om by ‘n straathoek te wag totdat ‘n begrafnisstoet kan verbybeweeg nie. Voertuie druk eenvoudig in die stoet in ten spyte daarvan dat die voertuie in die stoet hulle ligte aanskakel, naby mekaar ry en baie duidelik in ‘n groep beweeg. Ons het net eenvoudig nie genoeg verkeersmense om op elke straathoek die verkeer te reguleer nie. Is dit te veel gevra om uit medemenslikheid, ‘n bedroefde familie en vriende wat gekom het om ‘n dierbare te begrawe, voorrang te gee oppad na die begraafplaas? Wanneer almal dit vir die stoet moontlik maak om ongehinderd te beweeg, kan die begraafplaas gouer bereik word en is die verkeerontwrigting baie minder, as ‘n stoet wat net al hoe langer word as gevolg van die ongevoeligheid van ander mense. Hier lê ‘n mooi uitdaging vir die inwoners van Thabazimbi om aan mekaar (en dikwels ook besoekers) te bewys dat ons ‘n gemeenskap is wat omgee vir mekaar.
Vriendelike groete