General

Waarskuwings oor vloede ontvang

THABAZIMBI – Die Weerburo het waarskuwings van verdere reën na die Waterberg Distriksmunisipaliteit deurgegee en Thabazimbi se Rampbestuur Komitee is besig om betrokkenes te waarsku teen die moontlike gevolge van meer reën. Die Krokodilrivier het reeds drie meter gestyg van Woensdag na Donderdagmiddag. Teen druktyd was die rivier sowat 2,5 m onder die brug teenoor die vorige dag se 5,5 m. Donderdagmiddag was nog vier van Hartebeespoortdam se sluise oop, die Roodeplaatdam het oorgeloop en sewe sluise was oop in die Roodekoppiesdam. Die Transvaalse Landbou Unie SA Noord se voorsitter, mnr Dries Joubert, het boere in die Ellisras-omgewing gewaarsku dat die Mogol-rivier in vloed is. Volgens me Reinet Lategan, Rampbestuurkoördineerder by die Thabazimbi Munisipaliteit, waarsku hul die informele huiseienaars in Regorogile teen verdere reën – skade en probeer waarskuwings uitkry by almal langs riviere om so ver moontlik weg te bly van enige waterweë. Nou is nie die tyd om in die rivier te speel nie, sê sy. Waarskuwings word ook aan die Brandkomitees in Koedoeskop, Rooiberg, Leeupoort, Dwaalboom en Cumberland deurgegee om op bystand te wees.