General

Tambotie verloor oudste inwoner

THABAZIMBI – Tannie Hannetjie Coetzee, die oudste inwoner van die Tambotie Versorgingseenheid op Thabazimbi, is Dinsdag 11 Desember 2007 in die versorgingseenheid oorlede. Die laaste twee weke van haar lewe het sy maar net geleidelik agteruit gegaan en is die middag stil heen. Ouma Hannetjie was amper 91 jaar oud. Sy is op 26 Januarie 1917 in die Lichtenburg distrik gebore waar haar ouers op die plaas Uitschot naby Vermaas geboer het. Sy was ‘n gekwalifiseerde onderwyseres wat haar BA–graad, met Duits en Aardrykskunde as hoofvakke, aan die Universiteit van Potchefstroom in die middel dertigerjare behaal het. Daarna het sy haar Hoëronderwysdiploma aan Pote verwerf. Sy was ‘n toegewyde, maar streng onderwyser en ouer, met ‘n sterk opinie oor wat om haar aangegaan het. Taal was altyd naby haar hart. Of dit die Groot Verseboek, die Bybel of enige goeie roman was, het sy dit altyd intens en met passie gelees. Geen wonder dat sy in Std 8, toe dit nog ‘n publieke eksamen was, ‘n skildery deur ene P Van Emmenis van ‘n toneel van die Waterberge, van die destydse Departement van Onderwys ontvang het vir die 100% wat aan haar vir haar Afrikaanse vraestel toegeken is. Min het sy geweet dat sy bykans haar hele volwasse lewe hier naby die Waterberge sou deurbring. Dit vereis nogal moed vir iemand wat in Wes-Transvaal grootgeword het om die mielielande vir die bosveld te verruil. Gedurende die oorlogsjare het sy haar toekomstige eggenoot, Pieter Coetzee, op Bekker Skoolplaas, in die Magaliesburg- omgewing waar beide onderwysers was, ontmoet. Hiervandaan is hulle na Elandskraal naby Rustenburg (deesdae Mooinooi) en in 1948 het haar man Pieter, of destyds beter bekend as “Meester”, die hoofpos by Laerskool Groenvlei op Sentrum aanvaar. Intussen het hulle ook die steenmakery op Thabazimbi begin en van die eerste plotte wat uitgesit is bekom. In 1960 het hulle hulself op Moredou, die naam wat haar man aan die plotte buite Thabazimbi gegee het, kom vestig. Hy het ‘n pos by die destydse Thabazimbi Skool en later Hoërskool Frikkie Meyer aanvaar. Hulle was dan ook getaak om die biblioteek by die nuwe hoërskool gereed te kry vir die amptelike opening. Afrikaanse klas by ouma Hannetjie was vir menige skolier iets waarna hulle uitgesien het toe sy ‘n tyd lank by Laerskool Thabazimbi vir die Std 5 klasse afgelos het. Sy het die totale sillabus by die venster uitgegooi en stories uit die nuwe skatkis voorgelees. ‘n Sug het gewoonlik opgegaan as die klok gelui het want nou moes jy tot die volgende klas wag om die storie verder te hoor. Gelukkig was dit Laerskool en was al hierdie geleerde goed nie so belangrik nie. Ouma Hannetjie was ook ‘n toegewyde sakevrou en het menige oggend vroeg opgestaan om by die steenmaker toesig te hou terwyl haar man skool gehou het. Daarby was sy ‘n rojale gasvrou wat geniet het om haar vriende en hul gesinne met ‘n feesmaal te onthaal. Haar tuin was haar trots en sy kon elke roosboom in die tuin en elke perskeboom in die boord se naam onthou. Sy het geweet wanneer ‘n koei gaan kalf en het meestal self toesig gehou as die koeie gemelk is. Op die rolbalbaan was sy ‘n voorslag en het tot diep in haar sewentiger jare gereeld gespeel. Sy was ook elke keer op die bussie wanneer hulle aan toernooie so ver as Durban en Port Elizabeth deelgeneem het. So neem ons dan afskeid van ‘n unieke vrou, een van die pioniers van die bosveld. Sy word oorleef deur haar drie seuns, Hannes, Frans en Pieter, skoondogter Johanna, vyf kleinkinders en twee agterkleinkinders. Die begrafnis was Vrydag 21 Desember 2007 vanuit die Gereformeerde Kerk Thabazimbi.