Suksesvolle Jaarafsluiting vir Boogklub
THABAZIMBI – Thabazimbi Boogklub, wat reeds 12 jaar bestaan, het 2007 afgesluit met net soveel sukses as wat die jaar vir hulle verloop het. Die laaste jagkamp (by Jackie Botha) het die jaar se prysoorhandiging vooraf gegaan. Tydens die laaste kompetisie was dit belangrik om ‘n goeie telling te kry, want dit sou die klubkampioen van die jaar bepaal. Nico Botha is as die klubkampioen aangewys. Die Mik-maar-Mis-trofee het aan Jan Botha gegaan en die trofee vir die beste vordering aan Hannes Scheepers. Cilliers Miller was die lojaalste lid vir 2007 en het daarvoor die Kap-hom-Kwagga-trofee verower. Mis-koek-trofee is aan Henk Engelbrecht oorhandig vir die lid wat die grootste flater begaan het. Na afloop van die kompetisie en prysuitdeling is ‘n spitbraai in die veld gehou met lede en hul familie. Die klub het ‘n paar hoogtepunte opgelewer. Uitstallings en Vitals-skiet is op die Thabazimbi Landbouskou en Dwaalboom Oesfees gehou. Die klub was ook op Kyk-Net in die program Fiesta. Die afgelope finansiële jaar het die klub ‘n skootrekenaar en proxima, wat help met aandskiet, aangekoop. ‘n Kinderboog, om kinders in die kuns van boogskiet op te lei, is ook aangekoop. Daar was ook SABA-skietkompetisies waaraan deelgeneem is en Thabazimbi goed gevaar het met lede wat 80% behaal het. In ‘n plaaslike kompetisie, aangebied deur Pro Bow Boogklub, het drie van Thabazimbi Boogklub in die top vyf geëindig. Enige verdere navrae i.v.m. boogskiet of die klub kan aan een van die volgende persone gerig word: Tjaart Scheepers (voorsitter) 083-707-2855, Hannes Scheepers (onder-voorsitter) 083-490-9743 of Ben van Aarde (tesourier) 083-462-5796.