Soetste wingerdvrug by Waterberg Druiwefees
Elana Greyling NYLSTROOM – Ongeveer 12 000 mense het oor die naweek van 10-13 Januarie van sover as Kempton Park in Gauteng tot Polokwane in die Noorde afgetrek Nylstroom toe vir die jaarlikse Waterberg Druiwefees. Letterlik tonne kissies van die soetste vrugte van die wingerd is verkoop. Die nat seisoen het wel meer siektes en peste onder die druiwe veroorsaak, maar volgens mnr Sagrys van Heerden van Werda boerdery, was dit net nog ‘n uitdaging vir die Bosveld se flinkste druiweboere. As gevolg van die gunstige klimaat produseer die Waterberg druiweboere tafeldruiwe van die hoogste kwaliteit vir die plaaslike en internasionale markte, en dit, weke voor die res van die land. Die klem het, soos verwag kan word, op druiwe geval. ‘n Veiling is aangebied deur Marinus van Jaarsveld van Van Jaarsveld afslaers van rekord druiwetrosse, alles ten bate van die Abraham Kriel kinderhuis op die dorp. Met die hulp van Sunette de Villiers, Mej Druiwefees 2007, het Marinus die swaarste druiwetrosse geweeg en opgeveil. Die rekord tros is gekweek deur mnre Koos en Hennie Crafford en het 1.735kg geweeg. Die bielie van ‘n tros is gekoop vir ‘n ongelooflike R800 deur mnr Jan Lensley van Pretoria. Hy bring elke jaar sy gesin om by die Druiwefees te kuier. Die tweede swaarste tros is van Werda Boerdery van mnr Sagrys van Heerden en het teen 1,71 kg R600 vir liefdadigheid verdien. Die derde swaarste tros kom van Bukani boerdery. Hulle het ook die kissie geskenk wat die hoogste prys behaal het, naamlik R 1010. Mnr George Scheepers van Kempton Park wou nie verklap hoeveel hy op die ou end per korrel betaal het nie, maar is bereid om dit met die res van die gesin, Wilma, en seuns Andrew en Henry te deel. Verskeie bekende kunstenaars het feesgangers vermaak. Dit het ingesluit Kurt Darren, Juanita du Plessis, Hugo, Zinkplaat, Andries Botha, Etienne Steyn en Karen Ferreira. Die gladde bek, Alvin Bruinders was seremoniemeester en algemene aankondiger. Plaaslike talent het ook geleentheid gekry om hulle stemme te laat hoor. Behalwe vir die verskeidenheid stalletjies, het die feesgangers ook kans gekry om die vrugte van die wingerd in ‘n heel ander vorm te geniet in die gesellige biertuin. ‘n Fietswedren met 401 deelnemers is op Saterdagoggend aangebied om die manne en vroue se staal te toets in die Waterbergse heuwels. Behalwe vir die wedren van 45 km en 105 km onderskeidelik, was ‘n pretrit ook aangebied deur die Speke Fietsklub. Een van die hoogtepunte van die fees was die kroning van Mej Druiwefees 2008. Sunette de Villiers, wat verlede jaar al drie die krone (Mej Druiwefees, Mej Bene en Mej Fotogenies) gewen het, het haar kroon oorhandig aan Michelle Raspal van Naboomspruit. Die eerste prinses was Yolandi Nel van Lephalale met Tanya Botha van Middelburg as tweede prinses. Mej Druiwefees (13-15 Jaar) is gewen deur Marelise Jacobs (Pretoria), met Nikita Ruthven van Warmbad tweede en Siska Britz van Lydenburg derde. Mej Druiwefees (9-12jaar) is gewen deur Belinda Schreuder van Pretoria, met Annemie Venter, ook van Pretoria en Daniel van Wyk van Lydenburg as prinsesse. Mej Bene se onderskeie wenners was as volg: Nadie Britz (16-20jr), Nikita Ruthven (13-15jr), Marlize Britz (9-12jr) en Nadia Wigll (6-8jr). Mej Fotogenies is ook gewen deur Nadia Britz, met die ander ouderdomsgroepe as volg: Siska Britz, Annemie Venter en Courtney Truebody. Die manne het ook ‘n beurt gehad. Die man met die Perfekte Lyf is ook aangewys. Jacques Britz van Lydenburg het die Junior afdeling ingepalm en die senior afdeling is gewen deur ‘n skaam kêrel wat nie sy van wou verskaf nie, Niel. Daar is heerlik gekerjakker en gekuier en volgende jaar maak die druiweboere weer so. Hierdie jaar was daar sowat 160 stalletjiehouers en ‘n Kyk-Net-span onder leiding van Thys die Bosveldklong het ‘n opname vir hul nuwe program “Net virrie Grap” tydens die fees opgeneem. Die program is Maandag 21 Januarie om 18h00 op Kyk-Net gebeeldsend. Heelwat meer mense het die Sangfees vir Christus, wat gratis deur Willie Joubert aangebied is, bygewoon. Vrywillige bydraes van R2580 is ingesamel wat vir Bybelverspreiding geskenk word.