Sport

Ses medaljes vir Limpopo Jukskei

THABAZIMBI – Tydens die SA Junior Jukskei Kampioenskappe van 1 tot 7 Desember in Kroonstad is ses medaljes aan Limpopo-spanne toegeken. Limpopo Juniors het derde plek behaal ná Noord-Vrystaat (1e) en Boland (2e). Sestien unies van oor die hele SA en Namibië het deelgeneem. In die dubbelspel is drie medaljes verower. Die dogters o/14 A, Daphne Liebenberg en Hermien Naudé, en seuns o/14 A, Gustaf de Beer en Werner Swanepoel, het beide silwer medaljes gewen. Die gemengde o/14 dubbelspelpaar, Kobus Esterhuizen en Liza-Marié Geldenhuys het ‘n brons medalje gekry. In die spanspel is ook drie medaljes verower. Die seuns 0/14 A-span het ‘n silwer medalje gewen. Die spanlede is Gustaf de Beer (L), Werner Swanepoel, Kobus Esterhuizen en Claud Strauch. Die dogters o/14 B-span het ook ‘n silwer medalje gewen. Die spanlede is Denelle de Meyer (L), Juan-Marié Cawood, Lizelle Cornelius, Adri Marais en Nicola Kotzé (R). In die plaat-afdeling het die seuns o/14 B ‘n goue medalje gewen. Die spanlede is Jaco Botha (L), Stiaan de Nysschen, Benjamin Kruger, Morné Venter en Evert Genis (R). Die dogters o/19 A het ‘n vyfde plek in die plaatafdeling behaal. Die seuns o/19 A het vierde plek en seuns o/19 B sesde plek behaal. Die dogters o/19 B en dogters o/14 A het beide vierde plekke behaal. Die volgende seuns en dogters was gekies vir die Noord-Streekspan. Karel Venter en Cois van Zyl is vir die o/19 seunspan en Ruzanne Kloppers is vir die dogters o/19 span gekies. Gustaf de Beer is gekies vir die seuns o/14- en Daphne Liebenberg en Hermien Naude vir die dogters o/14-spanne onderskeidelik. Die Noordstreekspan het tweede geeindig uit vier streke. Ses van Limpopo Juniors se spanlede is gekies vir die besondere prestasie om die SA Toerspan na Namibië te verteenwoordig. In die seuns o/19-afdeling is Cois van Zyl en Karel Venter en in die seuns o/14-afdeling is Gustaf de Beer en Kobus Esterhuizen as reserwe gekies vir die SA Toerspan. Vir die dogters o/14-afdeling is Daphne Liebenberg en Hermien Naudé gekies. Op 19 Januarie word ‘n keuring vir senior spelers in Polokwane gehou om 08:00. Vir verdere navrae kan die sekretaris, Bossie Liebenberg, by 082-920-9070 geskakel word.