Pamflette blok stormwaterpype
THABAZIMBI – Advertensieblaadjies wat in stormwaterpype gegooi word, het Thabazimbi se dreineringstelsel nog meer oneffektief gelaat tydens die afgelope week se reën. Die advertensieblaadjies, wat sommer in groot hoeveelhede in plastiekomhulsels in ‘n stormwaterdrein in Vierde Laan afgegooi is, het veroorsaak dat Vierde Laan naby die Compu Centre onder water was. Volgens ‘n inwoner in Vyfde Laan, Belinda Loots, het hulle sommer hope advertensiepamflette van Pep Stores, Joshua Doore, Lubners, OK (Northam) en Cashbuild (Northam) uit die stormwaterpyp verwyder. Advertensies wat op dié manier versprei word, word gewoonlik deur onafhanklike verspreiders hanteer. Twee van hulle wat vir bogenoemde winkels se advertensieblaadjies se verspreiding verantwoordelik is, is Pri Media van Johannesburg en NLD (National Leaflet Distributers) van Pretoria. Beide hierdie verspreiders was ontsteld om te hoor van die pamflette wat in die drein beland het en het verseker dat dit opgevolg sal word. Daar is verskeie maatreëls in plek om te verseker dat die pamflette nie vermors word nie, maar wel by huise afgelewer word. Saam met elke bestuurder word ‘n kontroleurder uitgestuur om te verseker dat hy en sy “runners” by al die voorgeskrewe huise uitkom. Dan is daar ook ‘n kwaliteitskontroleurder wat kort op die afleweringsbakkie se hakke volg om toe te sien dat aflewerings gedoen word. Buiten dit word alle advertensiepakke met kleurkodes gemerk sodat die persoon wat op daardie dag en datum aflewering in ‘n area gedoen het, aanspreeklik gehou kan word vir enige foute. Volgens William Mason van Pep Stores is dié manier van adverteer uiters effektief en styg verkope aansienlik ná aflewering van blaadjies. Daar is ook ‘n storting-klousule, waarby verspreiders finansieel verantwoordelik gehou word as onafgelewerde pamflette iewers opgespoor word. Die persoon by NLD verantwoordelik vir verspreiding in Thabazimbi was reeds binne ‘n uur nadat hy in kennis gestel is op pad na Thabazimbi om die situasie te ondersoek. Die eenvoudigste, en versekerdste manier om te verseker dat jou promosie die publiek bereik, is steeds deur die plaaslike koerant wat nooit deur die verspreiders in ‘n stormwaterpyp gestort sal word nie.