Nuwe leraar vir Hervormde Kerk Vliegepoort

THABAZIMBI – Ds Hennie van der Linde lewer Sondag sy intreepreek by die Hervormde Kerk, Thabazimbi. Die vorige leraar, ds Kalfie Loots, het aan die einde van laasjaar geëmiriteer. Ds Van der Linde, sy vrou, Michelle en vier seuns het van Groot Marico, waar hul twaalf jaar was, na Thabazimbi getrek. Volgens hom beskou hy die nuwe beroep as ‘n uitdaging aangesien die gemeente dubbel so groot is as hul vorige een. “Die kraal is nou voller”, sê ds Hennie van die groter gemeente. Vóór Groot Marico was hulle vir drie jaar in Carltonville. Hulle hou van die Bosveld met sy plaasgemeenskappe en plattelandse gevoel, sê ds Hennie en Michelle, en het sommer welkom gevoel toe hulle verlede week in Thabazimbi aankom en ‘n huis vol kos aantref. Hulle bly egter maar versigtig vir die slange. Hul wou ook sommer met die intrapslag uitvind waar jong Jack Russel Terriers, bekend vir hul hantering van slange, in die hande gekry kan word. Een van die seuns, die 6-jarige Henko, is juis deur ‘n Mosambiekse spoegkobra in die oog gespoeg net voordat hulle uit Groot Marico weg is.Ja-nee, hulle is definitief nog steeds in slangwêreld.

Want to Receive Weekly Kwevoel Updates in Email?

We don’t spam! Read our privacy policy for more info.