Mogol in vloed – Boere gemaan om hulself voor te berei
LEPHALALE – Boere in die Ellisras omgewing is gewaarsku dat die Mogol rivier in vloed is en dat skade aan pompe in die rivier aangerig kan word. Na dae lange reën in die gebied is die Mogol rivier in vloed en die goeie reën wat in die Vaalwater gebied geval het, dra by tot die hoë vlak van die rivier en dam. ‘n Boodskap is ontvang dat die Mokolo dam se sluise gister (Donderdag) om 14:00 oopgemaak gaan word omdat die dam reeds 110% vol is. Volgens berigte is die brug tussen Ellisras en Marken al byna onder water. Oewerboere word aangemoedig om dringend alle waterpompe uit die rivier te onttrek sodat skade voorkom kan word. Volgens Dries Joubert, voorsitter van TLU SA Noord, vloei die water baie vinnig en hou ‘n gevaar vir mens en dier in. Hy het alle lede gewaarsku om versigtig te wees en om diere wat naby die rivier wei, dringend te verwyder. Hy sê dit wil voorkom asof daar dalk nog reën in die gebied kan val. Dit is bewolk in Ellisras. Joubert het lede gevra om alle voorsorg teen moontlike vloedskade te tref.