Kragonderbrekings: Aanvaar dit of word mal
THABAZIMBI – Die waarheid agter die kragonderbrekings van die afgelope week bly inwoners van Thabazimbi ontwyk. Volgens dagblaaie sê Eskom munisipaliteite is in beheer van kragonderbrekings, maar dáár word net skouers opgetrek. Hulle verwys almal na Eskom. En Eskom se plaaslike en streekstakke sê hul hande is afgekap: alle besluite oor kragonderbrekings word op hoë- Eskomvlak geneem. Sedert verlede Donderdag loop Thabazimbi kwaai deur met kragonderbrekings feitlik daagliks, party solank as vier ure of meer. Eskom Thabazimbi waarsku inwoners om selfs tot twee onderbrekings van twee en ‘n halfuur elk te verwag: een soggens en een smiddags. Hierdie situasie sal vermoedelik nog volgende week voortduur. Die oorsaak van die onderbrekings is vier foutiewe kragstasies in Mpumalanga. Soos hulle weer in werking tree behoort kragonderbrekings te verminder. Navraag by Eskom het aan die lig gebring dat die situasie vir Eskompersoneel net so frustrerend is. Volgens me Matshidiso Phaladi by Eskom, Bela-Bela is dit onaanvaarbaar dat kragonderbrekings vir langer as twee en ‘n half ure duur, met ander woorde dat twee beurtkrag-fases aaneenlopend voorkom. Met die vier-uur of langer onderbrekings wat voorkom is ‘n area dikwels vir een beurtkragfase geskeduleer, maar sonder enige kennisgewing aan streeks-Eskompersoneel word een fase sommer verleng na twee opeenvolgende fases van kragonderbreking. Sonder vooraf-waarskuwing kan sy nie hierdie inligting aan die munisipaliteit deurgee nie. In Thabazimbi bestaan vier voerders na verskillende seksies. Die voerders bedien die stadsraad, Iscor/Kumba, Regorogile en Kransberg onderskeidelik. Die hoofbeheerkamer in Simmerpan (Johannesburg) het beheer oor voerders en hulle besluit watter voerders op watter tye afgeskakel word. Eskom Bela Bela het ook verduidelik dat alle voerders vanaf Thabazimbi substasie ewe veel onderbrekings ondervind, maar op verskillende tye. So byvoorbeeld het Thabazimbi Dorpsraad versoek dat kragonderbrekings nie snags in die munisipale area sal voorkom nie, om misdaad te voorkom, terwyl die myn en Regorogile meestal kragonderbrekings gedurende die nag ondervind. Die groot vraag vir alle Suid-Afrikaners vandag is hoe om dié situasie te hanteer sonder om ‘n toeval te kry van frustrasie en verhoogde bloeddruk. Verbruikers kan hulself gereed maak vir kragonderbrekings vir die volgende vyf tot ses jaar, waarsku Eskom. Kampkos en kerslig is die ding vir die toekoms.