Elf nuwe rekords by HFM kleursport
THABAZIMBI – Elf nuwe rekords is by Hoërskool Frikkie Meyer se Interhuis Atletiekbyeenkoms Vrydag 18 Januarie aangeteken, waarvan een ‘n 38 jaar-oue rekord vervang! Glenize van Rooyen (Do/15) het sommer drie rekords gebreek vir die 100m, 200m en 400m. Die vorige 100m rekord vir Do/15 was 38 jaar oud en die ander twee beide 31 jaar oud. Reghard Hefer het twee nuwe rekords opgestel vir So/16 spiesgooi en diskus. In spiesgooi het hy die rekord van 2001 met meer as 5 m verbeter met ‘n gooi van 52,42m en in diskus het hy ‘n afstand van 36,46m behaal. Glenize was ook deel van die Do/15 aflosspan wat ‘n 37 jaar-oue rekord gebreek het. Die ander spanlede was Natasha van Tonder, Anita van Tonder en Marí Richter. Lize de Villiers (Do/19) het ‘n rekord geëwenaar wat reeds 20 jaar staan toe sy die spies 34,21 m ver gegooi het. Marthienus van den Berg het die gewig 12,18 m ver gestoot en ‘n nuwe So/14 rekord opgestel. Rudi Opperman (So/17) het ‘n rekord vir Diskus opgestel met ‘n afstand van 38,61 m en JP Jacobs (So/19) het ‘n nuwe rekord vir 110 m hekkies behaal in ‘n tyd van 15,9 sek. Die Blou span was die wenspan met 1041 punte, die Rooi span tweede met 917 punte en die Wit span derde met 908 punte. Aangesien die ondersteuners nie hard genoeg ondersteun het nie, is besluit om nie vanjaar ‘n gees-beker te oorhandig nie, maar die dirigente van die Blou span is as die beste dirigente aangewys. Die atleet wat aangewys is as die Beste Atleet Vrydag is Rynardt Luus, wat dan ook aangewys is as die Beste Seunsatleet en Beste Junior Seun Veldatleet toe hy 824 Absa-punte behaal het vir ‘n hoogte van 1,65 m in Hoogspring. Die tweede meeste Absa-punte (807) is deur Leandri Botha behaal toe sy die hoogspringlat op 1,40 m oorgesteek het. Sy is dan ook aangewys as die Beste Junior Dogter Veldatleet en die Beste Dogteratleet van die dag. Reghard Hefer het die derde meeste Absa-punte aangeteken, nl 794 met sy spiesgooi-afstand van 52,42m. Hy is aangewys as die Beste Senior Veldatleet. Glenize van Rooyen het 790 Absa-punte behaal vir die 100m Do/15 wat in 13,10 sekondes afgelê is. Sy is aangewys as die Beste Junior Dogter Baanatleet. Neil Koekemoer is die Beste Senior Seun Veldatleet. Hy het die 200m So/16 in 24,30 sekondes afgelê. Odette le Roux is aangewys as die Beste Senior Dogter Veldatleet vir 1,48m behaal in hoogspring. Marthienus van den Berg is Beste Junior Seun Baanatleet vir die tyd van 27,20 sekondes in die 200m S o/14. Sanlie van den Brink was die Beste Senior Dogter Baanatleet vir die 200m Do/17 wat sy in 28,10 sekondes afgelê het.