Entertainment

Musiekaand styf SAVF fondse

THABAZIMBI – ‘n Broodnodige R10 000(+) is vir die SAVF ingesamel met die baie geslaagde musiekaand wat op 2 November in die NG Kerk aangebied is. Die program, saamgestel deur René Thuynsma, het bestaan uit ligte klassieke musiek uitgevoer op die orrel, klavier, trompet en fluit. Almal was verras toe Magda van Biljon van Wielie-Walie faam, op die laaste nippertjie opgedaag het en ‘n Edith Piaf-liedjie gesing het. Die musiekitems is afgewissel met sangitems deur Nelrè Benadé. René en Albert du Plessis het die gehoor beïndruk met hul orrelspel, veral hul weergawe van die troumars. Verskeie klavierduette is uitgevoer en die jong Brighette Brand het die gehoor verras met haar vertolking van drie duette uit Sonatinas van Diabelli. Die liefde is besing deur die De Kock-susters, Berna en Louise, en Alta Eloff het bekende stukke deur Mansini op haar fluit uitgevoer. Die aand is afgesluit met ‘n kaas-en-wynonthaal, geborg deur Pick ’n Pay en Vliegpoort Drankwinkel. Die noodsaaklike werk wat deur die SAVF in die gemeenskap van Thabazimbi verrig word is nie altyd aan alle inwoners bekend nie. Die fondse wat tydens die musiekaand ingesamel is, is broodnodig om families in en om die dorp van voedsel en klere te help voorsien. Buiten die gevalle van kos- en klerenood is daar vele gevalle waar indringende berading, hofwerk en gemeenskapwerk gedoen moet word. SAVF is ‘n nie-regeringsorganisasie wat beteken dat, hoewel staatstoelaes ontvang word vir salarisse (vir een maatskaplike werker en een administratiewe beampte), alle verdere fondse deur die SAVF self gegenereer moet word. Donasies, soos dié deur die Marie Luttig Trust, lewer waardevolle bydraes om die kantoor te help funksioneer. Om te help met die fondsinsameling is ‘n groep vrywilligers in die lewe geroep wat baie goeie werk, sonder enige vergoeding, doen. Soos die Kersseisoen nader kom, word die nood in die dorp al groter. Daar is gesinne waar kinders uit kinderhuise vir die vakansie by hulle aansluit, maar daar is skaars genoeg kos vir die ouers alleen. Daar is gesinne wat ‘n huis deel, maar geen meubels besit nie. Vir een so ‘n gesin is die SAVF op soek na ‘n tweedehandse yskas. Tans word daar saam met Suzette Brits van PaintNet gewerk om kosemmers te versamel en uit te deel. Die kerke is ook genader om hiermee te help. Volgens Linda Grobler, die maatskaplike werker, beskik die SAVF slegs oor R600, nadat bedryfskoste van die kantoor in ag geneem is, vir voeselvoorsiening elke maand. Hiermee moet in die kosbehoeftes van sowat 30 monde maandeliks voorsien word: ‘n onmoontlik taak, soos enige huisvrou sal besef. Die grootste behoefte is aan kos soos blikkieskos, suiker, rys, hawermout, tee, sojavleis en waspoeier. As daar inwoners is wat graag kontantbydraes wil lewer, kan dit aan die SAVF-kantoor by tel (014)777-1093 gedoen word, of direk inbetaal word by Absa-bank, rekeningnommer: 158-072-00-95.