Innes Benadé raak harte by Kerssangdiens
THABAZIMBI – Die Kersseisoen vir 2007 is deur die besielende Kerssangdiens op 25 November by die NG Kerk Thabazimbi ingelui. Ds. Innes Benadé het die diens gelei en met die hulp van sy seun, Frede, is ‘n geestesryke boodskap na vore gebring. Kerkgangers het selfs buite en by die vensters van die kerk gesit om die inspirerende sang en preek van Ds Innes Benadé te hoor. Die gemeente het baie emosioneel geraak tydens die diens, veral toe die stuk “Die hemel het ‘n Nommer” voorgelees is. Ds Innes het sy droom vir die gemeenskap voorgedra waarin daar geen kommersiële waarde aan die Kersseisoen geheg word nie. Hy sê: “ Sal dit nie die God van Hemel en Aarde plesier as ‘n kettingwinkel sy blink versierings vervang met ‘n vers teen die muur wat lees: ‘So lief het God die wêreld gehad dat Hy sy Seun gestuur het vir ons’ nie?”. Die NG Kerk bedank Ds Innes dat hy al die pad vanaf George gekom het om hierdie mooi boodskap te bring.