Gholfnuus

THABAZIMBI – Die jaar is alweer so te sê verby. Die manne wat gedurende Desember gholf wil speel is steeds baie welkom, daar sal net nie amptelike kompetisies wees nie. Spelers moet maar hulle eie spel reël. Onthou net dat jy nogsteeds jou tellings moet invoer vir voorgee doeleindes en die telkaart in die kassie los. Die klub het ‘n goeie jaar op die gholfbaan gehad. Een van die hoogtepunte was seker die besoek van die Super Gholf span en die daaropvolgende blootstelling op Televisie. Dan het Thabazimbi Gholfklub ook ‘n hele paar baie geslaagde borgdae gehad. Die klub wil dan ook net weer hulle opregte dank aan al hierdie borge oordra. Sonder hulle kan die klub nie voortbe- staan nie. Die ge- wone Saterdae spel kon beter ondersteun gewees het, maar die lede van die klub is baie dankbaar dat daar ‘n lojale groep spelers is wat gereeld, of dit nou reën of die kraaie gaap, die klub ondersteun het. Dit is hierdie gideonsbende wat die ruggraat van die klub is. Aan hulle wil Thabazimbi Gholfklub ook hulle groot dank oordra. Die klub hoop net dat die groep in die toekoms al groter gaan word. Die baan is tans in die beste toestand ooit. Eddie Williams en sy span werk hard om die baan so te hou. Maar hulle het ook toerusting nodig om dit te doen. Jacob Jordaan spandeer baie ure saans om die toerusting in goeie toestand te hou. Enkele van die klub se lede het ook eie tyd en kostes gegee om die baan te help onderhou. Aan hulle ook die klub se opregte dank. Daar is hierdie maand ‘n hele paar name wat nie op die voorgeelys verskyn nie. Het hulle vergeet om hulle ledegeld te betaal of het hulle dalk ‘n ander rede. Die klub wil julle nie graag verloor nie. Kom asseblief terug. Die lede wat met die vakansie weggaan, ry tog asseblief versigtig en geniet die rustyd, so sê die woordvoerder van die ministerie van Vervoer, Mnr Slagati Potholo ook. Die wat agter moet bly, hou maar die deure gesluit en die harte oop en geniet ook julle vakansie. Namens die bestuur wens Thabazimbi Gholfklub al hulle lede ‘n baie aangename en geseënde Kerstyd toe en mag die nuwe jaar vir almal net voorspoed en goeie gholf inhou.