Gholfklub sluit af met Gekkedag
THABAZIMBI – Gekkedag, wat veronderstel was om ‘n pretdag te gewees het is in ‘n baie somber atmosfeer afgespeel. Almal se gemoedere was vol na die tragiese dood van Tannie Alida van Niekerk, Dinsdagoggend, by die afdraaipad na die gholfklub toe. Sy het so uitgesien na die dag en was juis op pad om spesiaal met haar drie stokke te gaan oefen. Tannie Alida, wat onlangs 80 geword het was vir baie jare een van die groot persoonlikhede in die klub. Sedert 1978 toe ek lid van die klub geword het was sy die een waarom feitlik al die klub se bedrywighede gedraai het. Sy was vir jare die dameskaptein en lid van die komitee en het nie maklik ‘n dag se gholf oorgeslaan nie. Sy en oorlede Oom Johann het vir baie jare die lede se honger mae met borgdae gevul en sy het die klub ook van haar heerlike tuisgemaakte pasteie voorsien. Sy was ‘n kolos en daar is nie ‘n enkele speler van die klub wat haar nie met groot agting en selfs bewondering bejeen het nie. Sy is dan ook verlede jaar vereer met Ere-lidmaatskap van Thabazimbi Gholfklub, iets waarop sy baie trots was. Die klub wil die familie, al die kinders en kleinkinders verseker van hulle diepste meegevoel en bid hulle krag en vertroosting toe. Thabazimbi Gholfklub sal haar nooit vergeet nie. Die dag se spel met net drie stokke was soos gewoonlik vir party ‘n nagmêrie en vir ‘n paar baie bevredigend. Die wenners was Alta Venter (77), Jaco Prinsloo (78), Jeanette Rall (78), Kobus Snyman, Mike Nortje en Nippie Niemann, al drie op 80. Die bekers wat deur die jaar gewen is, is weer aan die wat teenwoordig was oorhandig. Dan is daar ook ‘n paar spesiale toekennings gemaak. Dit was net jammer dat al die ontvangers nie teenwoordig was om hierdie eer te ervaar nie. Die Presidentsbeker word aan Jacob Jordaan toegeken. Johan Smit kry die Kapteinsbeker, Morne Gricius is die Karakter van die Jaar en Nico van der Westhuizen ontvang die Bertus Brits Ere-swaard. Alta Venter kry ook ‘n silwer medalje vir haar prestasie in die Dames-liga en Marina van der Wateren ‘n brons medalje. Daar is ook Ere-lidmaatskap toegeken aan Nico van der Westhuizen, Eddie Williams en Vollie Volschenk. Hierdie toekenning is die grootste eer en waardering wat die klub aan ‘n lid kan bewys vir baie jare se onbaatsugtige en toegewyde diens. Baie geluk aan al die wenners van die dag en ook deur die jaar. Baie geluk ook aan die lede wat met spesiale toekennings vereer is. Dit was die laaste amptelike kompetisie van die jaar. Daar sal Saterdae egter nogsteeds gholf gespeel word maar die lede wat opdaag sal hulle eie reëlings tref. Die Pick ‘n Pay Sundowner gaan ook nog op Woensdagmiddae voort.