General

Eskom druk inflasie hoër

Die waansinnige tarief verhoging van 18% wat deur Eskom aangevra is tydens die konsultasievergadering van NERSA (National Energy Regulator of South Africa) wat op Vrydag 16 November 2007 plaas gevind het, is totaal onaanvaarbaar, aldus TLU SA Noord. Volgens mnr Joubert, voorsitter van TLU SA Noord, is dit onaanvaarbaar dat die vuisvoos verbruiker moet betaal vir wanbestuur, korrupsie en onvermoë om te beplan. Jare se verwaarlosing, instandhouding wat na 1994 net nie gedoen is nie, en onvermoë van die regering om te beplan vir hoër verbruik, begin die staatsinstansie nou inhaal. Verbruikers behoort nie daarvoor gestraf te word nie. Mnr Stephen Hoffman, voorsitter van TLU SA Noord Ekonomiese Komitee, het sekere voorstelle voorberei wat ingehandig is tydens die vergadering. TLU SA Noord dui duidelik aan dat dit onaanvaarbaar is dat Eskom verhoogde tariewe wil instel om sy kapitaalprojekte soos nuwe kragstasies te finansier. Eskom moet hul kapitaal op die internasionale mark gaan werf of met nuwe aandele uitgifte dit vorder soos wat alle ander maatskappye dit op die ope mark doen. Net ’n gedeelte van die Suid Afrikaanse bevolking betaal vir elektrisiteit, dit beteken dat selektiewe verbruikers die volle kapitaalrekening sal vereffen, terwyl ’n reuse aantal verbruikers, wat effektief nuwe toetreders tot die verbruikersmark is en die balans versteur het, geen bydrae tot kapitaaldelging sal maak nie. Dis juis vir hierdie groot aantal onbeplande nuwe toetreders wat die addisionele opwekkingsvermoë gebou moet word. Eskom behoort ook die vergoedingspakkette van amptenare te ondersoek en moet seker maak dat kabeldiefstal aan bande gelê word voordat verbruikers uitgebuit word. Eskom het voor 1994 nie belasting betaal nie. Dit is na 1994 verander. Hoekom kan die regering nie die belasting weg vat sodat Eskom daardie geld kan gebruik vir hulle ontwikkelings nie? Daar is ook genoem dat geen verhoging bo 6% haalbaar sal wees nie. (Eskom se voorgestelde verhoging is 23.07 c/kWh, 18.7% verhoging vir 2008/9 met ‘n effektiewe verhoging van 21.8% vir Munisipaliteite). Die Munisipaliteite se persentasie is hoër, omdat Eskom se tariewe 1 April opgaan en Munisipaliteite sin eers met die aanvang van die munisipale begroting op 1 Julie. ‘n Vraag was gevra dat as Eskom se verhoging so goedgekeur word, en al hulle nuwe ontwikkelings klaar gebou is of Eskom dan weer die tarief sal verlaag? NERSA se antwoord was: “No, there will be modular or minimum changes done afterwards, because the increase has put a new benchmark to work from.” Joubert het gewaarsku dat die onsinnige en kortsigtige verhoging wat deur Eskom aanbeveel word, so aanvaar word, dit ‘n beduidende opwaartse druk op die inflasiekoers tot gevolg sal hê. Die regering behoort nie die onverantwoordelike optrede van die staatsinstansie toe te laat nie. Eskom het reeds ‘n 100% monopolie en behoort nie toegelaat te word om burgers so blatant uit te buit nie.