Die Departement van Onderwys het bepaal dat skole in 2008 self kan besluit of hulle Gr 12’s een of twee interne eksamens sal aflê. Verwarring mag ontstaan omdat teenstrydige inligting ten opsigte van sekere vakke bestaan. Hiervolgens word steeds vereis dat twee interne eksamens vir sekere vakke in Termyn 2 én 3 afgelê moet word. Die nasionale Onderwysdepartement het aangedui dat die vakassesseringsbeleid aangepas, en in lyn gebring sal word, met die nasionale beleid. Die datums vir die rekord- en eindeksamens vir 2008 is ook bekend gemaak. Die eindeksamen begin op 3 November 2008 en die departementele rekordeksamen op 1 September 2008. Die besluit oor opsionele assesseringstandaarde vir Wiskunde leerders in Gr 10 tot 12 en of dit verpligtend sal wees ná 2011, word in Maart 2010 geneem. Dit beteken dat opsionele assessering vir Gr 10’s nie verpligtend is vir 2009 nie. Dit word egter aanbeveel dat alle skole opsionele assesseringstandaarde onderrig omdat die leerders hierdeur bevoordeel sal word.
