Dertien van Thabazimbi by driekamp
THABAZIMBI – Dertien lede van Active Life Gym het die afgelope Saterdag aan ‘n uitdagende Energade Driekamp-byeenkoms in Vanderbijlpark deelgeneem. ‘n Jong Thabazimbiër, Benhard van Rensburg, was eerste in die ouderdomsgroep 9 tot 14 jaar. Die sowat 500 volwasse deelnemers moes 600 m, eers stroom-af en toe stroom-op, swem, vir 20 km ‘n sterk wind op hul fietse trotseer en daarna 5 km draf. Die eintlike kompetisie was tussen die mans- en vrouespanne van Thabazimbi met die mans wat 10 minute later as die vrouens weggespring het. Die mans (André du Toit en Johan Pienaar) kon egter nie daarin slaag om die agterstand in te haal nie en dus het die vroue (Zanie van Rensburg en Wilma Pienaar) as wenners uit die stryd getree. André du Toit was sewende in sy kategorie met ‘n tyd van 1h:06 en Johan Pienaar eindig 77ste in sy kategorie met ‘n tyd van 1h:13. Van die vroue het Wilma Pienaar die driekamp voltooi in 1h:15, wat haar 14de plaas in haar kategorie en Zanie van Rensburg was 18de in haar kategorie met ‘n tyd van 1h:17. Luzaan Combrink het die rondte voltooi in 1h:27 wat haar 50ste laat eindig het in haar kategorie. Die laaste persoon in het die items binne 2h:21 voltooi, wat weer eens bewys hoe goed die Thabazimbiërs vaar. Die ander kinders wat Saterdag deelgeneem het, was Johandré du Toit en Willie van Graan (nuweling by die driekamp) en dan het Zanré van Rensburg, Wihan en Jandré Lynn, Janré Combrink en Ian Pienaar weer deelgeneem en goed gevaar. Hierdie was die laaste driekampbyeenkoms vir 2007. Op 13 Januarie 2008 word die volgende byeenkoms, weer in Vanderbijlpark, gehou. Vir verdere navrae kan Active Life Gym by tel (014) 777-1735 geskakel word.