Entertainment

Bosveld-oord se Seniors sluit af met kompetisie

THABAZIMBI – By die Senior Burgers se afsluiting vir die jaar is daar verjaardag gevier, woordkompetisie gehou en, natuurlik, partytjie gehou. Op Woensdag 21 November, het die Senior Burgers hul laaste byeenkoms vir die jaar by Bosveld-oord gehad. Die kompetisie het behels dat die deelnemers kompeteer om die langste woord te vorm. Die eerste plek het gegaan aan oom Kas du Plessis. Hy het gewen met die woord: “leerlingverpleegsustereksamenvraesteldrukfout”. Hierdie woord bestaan uit ‘n verstommende 45 letters. In die tweede plek was me Ria Potgieter vir haar woord: “kommunikasietegnologiediensverskaffers” (38 letters). Die derde plek het gegaan aan me Bettie le Roux. Haar wenwoord was: “waatlemoenkonfyttentoonstelling” met 31 letters. Die organiseerders van die kompetisie was mnr Aalwyn Hefer (Voorsitter), me Martie Theron (Ondervoorsitter) en me Enna Joubert (Sekretaressse). Tannie Enna het op dieselfde dag haar verjaarsdag ook gevier. Na afloop van die trekking is verversings en drinkgoed verskaf. ‘n Vrywilliger van die SAVF, Lorraine Vorster, was ook by die afsluitingsfunksie en het met die beoordeling van die woordkompetisie gehelp. Die Senior Burgers het voorwaar op ‘n hoë noot afgesluit!