Borg toegestaan aan SAPD moordbeskuldigde
THABAZIMBI – ‘n Polisie-inspekteur van Thabazimbi, Melanie Coetzee, wat van moord op haar man, Francois Coetzee, aangekla word, se borgaansoek van R10 000 is gister in die landdroshof toegestaan. Sy het in die Thabazimbi Landdroshof verskyn nadat sy in Bela-Bela aangehou is. Die landdros, mnr Derek Torlage het gesê dat die bedrag van R10 000 billik is, die erns van die klag in ag genome. Hy het ook bepaal dat sy aan die ondersoekbeampte moet rapporteer voordat sy Thabazimbi verlaat. Me Coetzee, wat ondersteun is deur vriendinne en haar ouers, het die hof verlaat met ‘n handdoek oor haar gesig. Die 33-jarige Coetzee het moeilik in die polisievoertuig geklim, vermoedelik vanweë artritis, ‘n siekte waaraan sy van jongs af ly. Sy het in ‘n verklaring wat sy self geskryf het, motiveer waarom sy vir borg kwalifiseer. Sy het onder andere aangevoer dat sy ‘n permanente adres het, dat sy geen vorige veroordelings het nie en dat sy van die begin af haar samewerking aan die polisie in die ondersoek gegee het. Sy het ook verduidelik dat sy ‘n artritis lyer is en dat sy ‘n 5-jarige seun het wat onder haar sorg is. Sy is bereid om haar ID-dokument aan die Polisie te oorhandig en besit geen paspoort, wat haar nie ‘n vlug risiko maak nie. Sy het haar ook bereid verklaar om aan te meld wanneer sy die dorp verlaat. Tydens ondervraging het die ondersoekbeampte in die saak Insp Modise Majadibodu verklaar dat die Polisie nie die borgaansoek teenstaan nie en dat hulle haar sou kon opspoor as sy sou vlug. Dit blyk dat sy die polisie ontbied het ná die dood van haar man. Hy het ook verduidelik dat die vuurwapen wat sy vir haar werk gebruik weggeneem is van haar. Volgens hom behoort die ondersoek binne 2 tot 3 maande voltooi te wees en dat daar tans op forensiese getuienis gewag word. Me Coetzee se prokureur, mnr Danie Klopper, het namens haar aansoek gedoen om die volgende twee weke na haar ouers in Moreleta Park en die naweek na Zeerust, waar die begrafnis van haar man sal wees, te gaan. Dit is toegestaan. Sy moet weer op 28 Januarie 2008 in die hof verskyn. Ook teenwoordig in die hof was die familie en vriende van Francois Coetzee, me Coetzee se oorlede man.
