Active Life Gym by Roodeplaat driekamp
THABAZIMBI – Al die deelnemers van Active Life Gym wat die afgelope naweek aan die driekamp by Roodeplaatdam deelgeneem het, het tye tussen 1h:15 en 1h:37 behaal. Die laaste persoon van die altesaam 508 deelnemers het in 2h:38 klaargemaak. Dit beteken dat die laaste Thabazimbiër reeds 1 uur lank klaar was teen die tyd dat die laastes ingekom het. Die roete word as ‘n moeilike een beskryf as gevolg van al die bulte in die omgewing. Die driekamp, wat 600m swem, 20 km fietsry en 5 km draf behels, het vyf volwassenes van Thabazimbi gelok. André du Toit het klaargemaak in 1h:15 wat hom sesde in sy kategorie plaas en Johan Pienaar was oor die eindstreep in 1h:23, 79ste in sy kategorie. Wilma Pienaar se tyd was 1h:27 (11de in haar kategorie), Zanie Janse van Rensburg se tyd was 1h:30 (15e in haar kategorie) en Luzaan Combrink was klaar binne 1h:37, wat haar 36ste in haar kategorie geplaas het. Dan het die jongelinge weer hul staal gewys in die driekamp-kompetisie. In die ouderdomsgroep tussen 7 en 8 jaar het Zanré Janse van Rensburg, Janré Combrink en Jandré Lynn deelgeneem. Janré het weer, net soos in Potchefstroom, vierde plek behaal. Benhard Janse van Rensburg het baie goed gevaar toe hy derde geëindig het in die ouderdomsgroep van 9 tot 14 jaar. Ander deelnemers in hierdie ouderdomsgroep was Ian Pienaar en Wihan Lynn. Altesaam 300 kinders het by Roodeplaatdam deelgeneem. Die volgende driekamp is op 2 Desember by Vanderbijlpark. Die swemitem vind in die Vaalrivier plaas. Mans- en vrouespanne gaan teen mekaar wedywer in hierdie kompetisie. Vir verdere inligting oor die driekamp-byeenkoms kan Active Life Gym by (014) 777-1735 geskakel word.