General

Verbod op uitvoere na die Europese Unie

Die RPO het kennis geneem van mediaberigte ten opsigte van die Europese Unie (EU) se voorneme om invoere van sekere produkte (wat rooivleis insluit) na die ekonomiese blok te verbied. Geen formele kommunikasie tussen die EU, die Owerheid en die bedryf is op hierdie stadium beskikbaar nie. Die verbod het nie ‘n onmiddellike direkte invloed op die rooivleisbedryf nie aangesien Suid-Afrika ‘n netto invoerder van rooivleis is en nie op enige wesenlike skaal rooivleis na die EU uitvoer nie. Beperkte uitvoere na sekere nismarkte in die EU kan negatief geraak word. Die RPO sê hy is bekommerd oor die feit dat die EU-opname na bewering gebreke in die dieregesondheidstelsel op provinsiale en nasionale vlak uitgewys het. Dit kan onder andere negatief impakteer op verbruikerspersepsies in terme van kwaliteit -en higiënestandaarde van landbouprodukte. Dit is noodsaaklik dat die bedryf in oorleg met die Owerheid die kapasiteitsprobleme sal aanspreek. ‘n Omvattende verslag met detail- aanbevelings hieroor is aan die Nasionale Minister van Landbou voorgelê deur die Dieregesondheidsforum wat al die relevante rolspelers in die Lewendehawe – en ondersteunende diensverskaffers ingesluit het. Die Rooivleisbedryf het twee jaar gelede ‘n statutêre heffing ingestel wat juis onder andere kwaliteit -en higiëne probleme in die rooivleisbedryf aanspreek en dit is nou duidelik dat dit die regte besluit was. Bio-sekuriteitstelsels op die plaas het nou ook tot ‘n groot mate die verantwoordelikheid van individuele produsente geword. Die RPO is in die proses om produsente in die verband te ondersteun en wil produsente graag aanmoedig om dit te implementeer.