Sensitiewe padroetes geïdentifiseer langs Marakele Nasionale Park
THABAZIMBI – Die Marakele Park Forum het op een van sy onlangse vergaderings ’n besluit geneem om sekere padroetes aangrensend tot die Nasionale Park as sensitief te klassifiseer en om borde te laat opsit langs hierdie roetes om die publiek daaroor in te lig. Die aksie word ondersteun deur SANParke, die Limpopo Departement Ekonomiese Ontwikkeling, Omgewingsake en Toerisme, asook die Limpopo Paaie Agentskap. Dit volg na aanleiding van verskeie klagtes oor veral rommel- en geraasbesoedeling wat veroorsaak word deur onverantwoordelike padgebruikers waarvan die meeste op ongelisensieerde “quad bikes” rondjaag. Die Marakele Park Forum sien rommel- en geraasbesoedeling as ‘n bedreiging vir die wildernis atmosfeer en as teenstrydig met die natuurverwante grondgebruike in en om die Park. Die Marakele Park Forum bestaan uit verskeie rolspelers wat die Marakele Nasionale Park, diegene wat aangrensende eiendomme besit, gemeenskappe wat naby aan die Park bly, asook ander belangegroepe wat insluit die Thabazimbi Munisipaliteit, die Waterberg Biosfeer, plaaslike instansies in die toerisme bedryf en andere verteenwoordig. EcoZa het deur die loop van verlede week ‘n skoonmaak operasie van stapel gestuur in Bakkerspas ter ondersteuning van bogenoemde aksie. Die deel van die roete waarop gefokus was het begin net na die afdraai na die “Towers” en het weer by die Waterberg Lodge geëindig. Heelwat sakke gemors is opgetel en na die Thabazimbi Vullisterrein geneem. EcoZa daag ander Park Forum lede uit om dele van die roetes wat naby aan hulle geleë is ook skoon te maak. Volgens Johan van Rooy, EcoZa se plaaslike verteenwoordiger, kan mens gerus na die teerpad wat voor Marakele se ingang verbyloop asook die stuk van die grondpad tot by die “Towers” se afdraai kyk. Mens kan maar net hoop dat die voorgestelde borde asook paaie wat skoongemaak word aanleiding sal gee tot ‘n bewuswording en dat mense minder rommel sal strooi. Volgens Van Rooy moes hulle na net een naweek weer ‘n halwe vullissak vol rommel optel op presies dieselfde deel van die pad wat hulle reeds skoongemaak het, meestal bier, “cider” asook koeldrank bottels en blikkies. “Mens kan nie verstaan hoe mense dit oor hulle harte kan kry om hulle rommel in sulke natuurskoon rond te gooi nie. Besef mense nie dat hulle rommelstrooiery en geraasmakery die uiters sensitiewe ekosisteem wat byvoorbeeld in Bakkerspas voorkom asook die aasvoëlbroeipare wat teen die hange van die Kransberg bly, kan beïnvloed nie?” het hy gesê. Die Marakele Park Forum hou hulle jaarlikse openbare vergadering op Vrydag, 30 November, om 09h00 in die nuwe raadsaal by die ingangshek. Belangstellendes word gevra om ds Dirk Laufs (voorsitter) by 082 675 2076 of vir Chantel van Niekerk, chantelvn@sanparks.org / 014 777 1745 / 082 449 7637 vooraf te skakel indien u die vergadering wil bywoon, sodat die nodige reëlings getref kan word.