Laerskool Thabazimbi gee om vir kinderhuis
THABAZIMBI – Laerskool Thabazimbi het weereens hulle sagmoedige kant gewys teenoor die Abraham Kriel Kinderhuis. Groot besendings klere, toiletware, skoonmaakmiddels, blikkieskos, rekenaars en televisies is geskenk. Elke kind het sy deel gedoen en probeer om ‘n bydrae te maak. Laerskool Thabazimbi wil net die ouers en gemeenskap bedank vir hulle onbaatsugtige optrede. Die kos en klere wat geskenk is gaan aan 190 behoeftiges in die Kinderhuis. Hanti Vorster, koördineerder van die projek, sê dat die Laerskool vroeg in 2008 weer ‘n besending gaan stuur. Enige bydraes word verwelkom en ouers kan reeds skenkings maak. Sy sê: “Dankie dat u die sleutel gevind het om ander wat minder as u het, se lewens te verryk en effens makliker te maak”.
