Sport

Jukskei – Eerste Bondsliga op Naboom

THABAZIMBI – Die Limpopo Jukskei Unie het op Saterdag 10 November die eerste bondsliga gehou op die Naboomparkbane te Naboomspruit. Agt klubs het deelgeneem in verskillende afdelings. Afdeling A het uit 7 spanne bestaan. Thabazimbi het ‘n trofee verower nadat hul eerste geëindig het in hierdie afdeling met 62,5.Die Olifante was tweede met 57,5 en Soutpan derde met 47,5. Landdros (Polokwane) was vierde met 47 en Tarentale was vyfde met 40 punte. In die B-Afdeling het daar ses spanne deelgeneem. Die Olifante was in die eerste plek en het ‘n trofee gekry vir hul totaal van 48,5, Steenbok (Polokwane) was tweede met 45, Naboompark was derde met 40, Tarentale was vierde met 39,5 en Landdros 1 vyfde met 39 punte. In die C-Afdeling het vier spanne meegeding in ‘n dubbelrondte. Thabazimbi was eerste in dié afdeling met 73 punte en het ‘n trofee verower vir hul goeie oorwinning. Landdros was tweede met 40,5 en Tarentale 1 derde met 36,5 en Tarentale 2 vierde met 29,5 punte. Die afgelope seisoen se presteerders in onderskeie afdelings is op die jaarvergadering aangewys. In die Veteraan Mans-afdeling is Jannie Engelbrecht (Thabazimbi), in die Mans-afdeling is De Graaff Genis (Tarentale Mokopane) en Dames-afdeling is Adrie Muller (Tarentale) aangewys as presteerders nadat hulle al drie gekies is vir die Noord Streekspan tydens die SA Kampioenskappe. Die juniors het ook presteerders opgelewer. Francois van Zyl (Olifante Groblersdal) is gekies vir die SA Skolespan Seuns 0/19 en het ‘n toer na Namibië onderneem. Daphne Liebenberg van Thabazimbi is ook gekies vir die SA Skolespan Dogters 0/14 by die SA Skolekampioenskappe en het ook die toer na Namibië meegemaak. Martie Nell (Tarentale) ontvang die trofee vir die beste spanbestuurder vir die B en C Toernooi in Kroonstad en vir die beste media skakelbeampte vir Limpopo Jukskei. Die SA Skolekampioenskappe vind van 1 tot 7 Desember plaas in Kroonstad.