Hou bene en wiele, hou!
THABAZIMBI – Active Life Gym se fietsryers het goed gevaar by vanjaar se Pick ‘n Pay 94.7 Fietswedren in Johannesburg die afgelope naweek. Fia le Roux (2h:44) het uitstekend gevaar toe sy slegs 43 sekondes agter die wendame geëindig het en daarmee ‘n algehele 18de plek onder die dames behaal het. In haar ouderdomsgroep (30 tot 39 jaar) het sy derde geëindig. André du Toit was 32ste in sy groep (veterane-groep ouderdom 40 tot 44 jaar) en het die 94,7km afgelê in 2h:30. Oud-Thabazimbiër Riaan Nagel het ook goed gevaar en die afstand binne 2h:52 afgelê. Ronel Botha en Nattie Potgieter het goed gedoen met tye van 3h:14 en 3h:21 onderskeidelik. Jongelinge soos Riaan en Johan Koekemoer van Thabazimbi het ook deelgeneem. Dié wedren, wat in sekere kringe vergelyk word met die Argus-wedren in Kaapstad, het altesaam 25 000 fietsryers gelok, waaronder Suid-Afrika se beste ryer, Robert Hunter, en ook die wêreld se beste, Eddy Merckx. Meer as 300 metropolisie-offisiere en 660 beamptes het die roete help beheer, ‘n formidabele taak met meer as 25 000 fietsryers wat amper 100 km deur die strate van Johannesburg, waarskynlik die stad met meeste voertuie in die land, aflê. Meer as 4000 kinders het ook aan die Pick ‘n Pay 94.7 Children’s Challenge deelgeneem.