HFM spog met nuwe kennisgewingborde
THABAZIMBI – Die Hoërskool Frikkie Meyer staan weer gereed vir ontwikkeling. Die inwoners van Thabazimbi moes teen die tyd al die nuwe elektroniese kennisgewingborde op die skoolgrond raakgesien het. Die een bord is op die hoek van 13de Laan en Watsonialaan en die ander een op die hoek van 10de Laan en Tambotiestraat by die skool se hoofingang. Die borde is vervaardig deur Polly Comp. Mnr Johan Heystek en sy kollega, me Hanna Erasmus beheer self die inligting wat hierdie borde weergee. ‘n Mini-sleutelbord word eenvoudig aan die borde gekoppel en hiermee kan inligting vir ‘n hele kwartaal beheer word. So kan die borde programmeer word om die korrekte tyd, datum of belangrike inligting weer te gee. Die borde bevat ook ‘n sensor om die regte temperatuur te meet. Die twee se temperature verskil egter omdat hulle op verskillende plekke geleë is. Die koste van elke bord beloop R18 000 waarvan R2000 gebruik word vir hulle waterdigtheidsvermoe. Befondsing van die borde is deur die Leerlingraad 2007 behartig en hulle het projekte geloods om die geld in te samel, want die skoolprojekte maak nie hiervoor voorsiening nie. Een van hulle was ‘n kompetisie waarin twee kaartjies na die semifinaal tussen die Blou Bulle en Crusaders gewen kon word. ‘n Bloubul trui is ook opgeveil. Verskeie maatskappye se name kan op die onderste bord gesien word. Hierdie maatskappye betaal ‘n fooi aan Convert Marketing vir publisiteit en die skool ontvang ‘n persentasie daarvan. Die borde kan vir ouers die inligting wat hul nodig het oor skoolaktiwiteite gee. Dit adverteer ook die skool se sport- en kultuurgeleenthede en bied goeie publisiteit aan borge. Die vorige kennisgewingborde het begin probleme gee deurdat die letters weggeraak of gebreek het. Dit het ook baie onnodige tyd en moeite van die leerlingraad vereis. Die skool wil net baie dankie sê aan die Leerlingraad van 2007 wat met hierdie wonderlike stukkie tegnologie HFM ook op die kaart geplaas het.