Hengelaars ontvang pryse op jaareind funksie
SETARIA- Northam Platinum hengelklub het hul afsluiting verlede Saterdag gehou. Die talle trofeë wat uitgepak is en die name van die wat pryse ontvang het is deur gegaan, sodat niemand uitgelaat word nie. Daar was pryse van die beste hengelaar tot die swakste hengelaar, die wat die meeste vis gevang het en die minste, die wat probeer het om te vang en die wat kon vang, die getroue ondersteuners en die wat maar net so nou en dan daar was. Van die penkoppe tot die seniors het pryse ontvang. Maar een man se naam was omtrent aan alles gekoppel, naamlik Rudi Smit. Hy is ook aangewys as die hengelaar van die jaar. As enige een iets van hengel wil af weet is hy die man om te vra. Rudi het omtrent al die kompetisies vir die jaar gewen en die wat hy nie gewen het nie was hy waarskynlik nie daar nie. Hy weet net hoe om met die vis te “praat” is daar gesê. Rudi het met ‘n hele paar trofeë weggestap asook met die groot prys van ‘n naweek by Mohala Lodge vir hom en sy vrou. Verder het die penkoppe die dames en die juniors ook baie trofeë ontvang. Daar was sertifikate aan die baie besige dames agter die skerms uitgedeel, die wat hard werk en nie altyd ‘n dankie gekry het nie. Na al die verrigtinge afgehandel is, is daar lekker geëet en gekuier. Vir die kinders was daar vermaak gereël terwyl die ouers lekker op die maat van leeu loop gedans het. Die aand is deur almal geniet en sien uit na volgende jaar se visvang kompetisies.