Bosveld verloor ‘n (dryf)yster

THABAZIMBI – Een van Thabazimbi se voorste vroue gholfspelers, tannie Alida van Niekerk (80) is Dinsdagoggend op slag gedood nadat haar voertuig by die ingang van die gholfbaan in ‘n botsing met twee ander voertuie betrokke was. Die ongeluk het die oggend net voor 08:00 gebeur terwyl sy waarskynlik oppad was om ‘n vroeë potjie gholf te gaan speel. Alhoewel die ander twee voertuie onherstelbaar beskadig is, is niemand anders ernstig in die ongeluk beseer nie. Na haar man, Johann, se dood het tannie Alida voortgegaan om hierdie sport, waarvoor beide baie lief was, te beoefen. Sy het dan ook telkemale as damesvoorsitster van die Thabazimbi Gholfklub gedien en was altyd bereid om haar gewig tydens kampioenskappe, nie net op die baan nie, maar ook in die kombuis, waar sy kos voorberei en gaste bedien het, in te gooi. Gedurende haar lewe was sy dan ook verskeie kere die dameskampioen van Thabazimbi Gholfklub. Hierby was sy in haar jonger dae ook ‘n kranige tennisspeler. Terwyl haar man nog geleef het, het die paartjie by baie geleenthede die bejaardes met hul musiek en sang vergas. Oom Johann was, buiten orrelis in die NG Kerk op Thabazimbi, ook ‘n voorslag komponis en was hy dan ook die skrywer en toonsetter van die meeste skoolliedere van die dorp en omgewing se skole. Die egpaar het gedurende die laat veertiger-jare na Thabazimbi verhuis waar Johann by die destydse Yskor werksaam was. Hulle het na sy aftrede na die plaas Elandskuil getrek waar hulle ‘n saaiboerdery bedryf het. Die plaas is later met die ontdekking van Platina in daardie geweste deur die myn uitgekoop en die egpaar het toe ‘n plot op Spitskop by Thabazimbi gekoop waar hulle hul gaan vestig het. Uit die huwelik is vier seuns, Gert, Tinus, Johann en Hendrik asook ‘n dogter, Alida, gebore. Al die kinders is hier op Thabazimbi gebore en het hier groot geword. Huidig is dit net Hendrik en sy gesin wat steeds in die omgewing woon. Tannie Alida word oorleef deur vier van haar kinders, 11 kleinkinders en drie agterkleinkinders. Die begrafnis vind volgende Vrydag, 30 November, om 11:00 vanuit die NG Kerk Thabazimbi plaas.