General

Stygende krisis rondom plaasveiligheid

TLU SA Noord sê in ‘n mediaverklaring dat hy met groot kommer kennis geneem het van die twee plaasmoorde (mnre Piet Smit en Magiel de Lange) asook die aanval in Levubu op die Erasmus gesin wat binne ‘n kort tyd van mekaar plaasgevind het. Die verklaring lui verder dat gesien teen die agtergrond van die koelbloedige en wrede moorde en die aanval in Levubu, TLU SA Noord se veiligheidskomitee genoodsaak is tot ‘n dringende verdigting van aktiwiteite van steunkringe. Tydens ‘n vergadering van TLU SA Nasionale Dagbestuur, die voorsitter van TLU SA Veiligheidskomitee, mnr Machiel Reinecke en amptenare met Kommissaris Pruis wat op Dinsdag 2 Oktober 2007 plaasgevind het is dit aanvaar dat die status quo met betrekking tot die gebruik van groen ligte deur die Steunkringe gehandhaaf word. Lede verwag van die TLU SA Noord Veiligheidskomitee om die veiligheid van lede na te streef en die komitee sal hul plig versuim as daar nie dringend aandag aan die snel verslegtende situasie gegee word nie. Die hofuitspraak in Pretoria wat aan die inwoners van Lynnwood Manor reg gee om hul gebied daadwerklik teen misdadigers te beskerm, is nog ‘n bewys dat gemeenskappe toenemend die oproep van die SAPD dat gemeenskappe by misdaadvoorkoming betrokke moet raak, hoor en positief daarop reageer. TLU SA Noord se verklaarde beleid is dan juis om so ver moontlik met lede van die SAPD op plaaslike, provinsiale en nasionale vlak saam te werk. Mnr Reinecke het gesê dat Kerstyd, wat tradisioneel ‘n tyd van vrede en verootmoediging was, het verander in ‘n orgie van geweldadige misdaad, moord, verkragting, roof en ander misdade teen kwesbare wetsgehoorsame burgers. Die verwoestende misdaad die afgelope twee weke het dit bewys. Dit is daarom dringend noodsaaklik dat die Steunkringe opgeskerp moet word om saam met lede van die SAPD die vernietigende effek van misdaad op gemeenskappe hok te slaan. TLU SA Noord beskou die Steunkringe as ‘n magsvermenigvuldiger vir lede van die SAPD, veral in die uitgestrekte landelike gebiede waar SAPD teenwoordigheid nie altyd orals sigbaar en teenwoordig is nie. Daarom is besluit om, as magsvermenigvuldiger vir die SAPD, die Steunkringe met gepaardgaande gebruik van die groen ligte oordeelkundig, met groot verantwoordelikheid aan te wend en te gebruik sodat die vlaag van misdaad dringend bekamp kan word. Die dramatiese afname in misdaad wanneer die Steunkringe betrokke raak, is ‘n bewys van die magsvermenigvuldigings effek indien die SAPD en die gemeenskap hande vat en saam werk.