Pampoentjies in die lug
THABAZIMBI – Daar is nié ‘n epidemie nié, maar ‘n paar gevalle van pampoentjies het die afgelope drie weke in Thabazimbi voorgekom. Volgens mediese personeel in die dorp is dit ‘n gewone kindersiekte met weinig komplikasies en is kommer onnodig. Dit word, soos griep, deur ‘n virus veroorsaak. En net soos baie kindersiektes is dit ‘n siekte wat met minder nagevolge deur jong kinders opgedoen word. Die skole en dokters waarsku dat ouers nie op loop moet gaan nie; onthou dis beter om dit as jong kind op te doen. In baie gevalle word die dokter nie eers geraadpleeg nie; kinders kry dit in ‘n ligte graad en verloor nie noodwendig skool nie. ‘n Dokter word meestal besoek wanneer sekondêre infeksies ontwikkel. In die geval van ouer seuns (bo die ouderdom van 12) wat die siekte opdoen, moet die pasiënt stil gehou word. Die kliere in die lies kan ook aangetas word. Die simptome van pampoentjies is ‘n seer keel, koors en ‘n smaakgevoeligheid vir suur smake. Die geswelde kliere tussen die kaak en keel is ‘n bekende simptoom, maar nie altyd teenwoordig nie, veral nie aan die beginstadium nie. Dikwels word die kliere slegs aan een kant van die nek aangetas. Aansteeklikheid is die hoogste binne die eerste veertien dae wat die virus opgedoen word. Dis ‘n hoogs aansteeklike siekte en kinders wat dit onder lede het, moet tuis versorg word, soos ook die geval is met ander kindersiektes naamlik waterpokkies, masels en Duitse masels. As ‘n ouer bang is dat hy/sy die siekte kan aansteek: indien u dit as kind gehad het, kan dit weer opgedoen word, maar slegs in ‘n ligte graad. Volgens mediese personeel kom kindersiektes dikwels hierdie tyd van die jaar voor as gevolg van hitte, moegheid, die spanning waaronder kinders verkeer tydens eksamen en omdat hulle minder fiks is omdat sportbedrywighede gestaak is vir die jaar.
