Neos hou suksesvolle Gesinsdag
KOEDOESKOP- ‘n Lekker somersdag was net wat Neos gesoek het vir hul gesinsdag en dit was dan ook verlede Saterdag die geval. Met die warm somers weer was daar groot pret by Neos. Van vroeg af is daar begin om die dag reg te kry vir alles wat sou plaasvind. Kinders is van vroeg af besig gehou met boeresport. Dit het vir groot vermaak gesorg vir oud en jonk. Daar was tweebeen resies, en dan was daar die gewilde eiergooi. Dit alleen het vir baie gelag en pret gesorg. Die wat die eiers die verste afstand kon gooi was die wenners. Nie almal was so goed met die gooi en die vang van die eiers nie. Daar was ‘n paar “ge-eierde “ kinders wat gou vir water gaan soek het om die eier te kon afwas. Daar was ook “paintball” vir die wat nie kans gesien het vir die boeresporte nie. Die groot gelag het gekom met die water kaskanades. Daar moes oor ‘n nat seil gehardloop word en aan die ander kant ‘n piesang uit meel haal en met die wit gesigte weer oor die nat seil hardloop. Wat die deelnemers nie geweet het nie is dat die seil voor af met seep gegooi is en dat dit seep glad was. Daar was gegly en gelag. Die personeel van die skool en ouers het ook deelgeneem, teen die kinders. Wie telling gehou het was ‘n groot vraag want almal het so gelag vir die gebeure. Daar was ook stalletjies om deur te snuffel en later was daar ‘n spitbraai wat almal se honger kon stil. Dan was daar ook die manne wat aan die sterkman kompetisie deel geneem het. Dit het maklik gelyk toe ‘n profesionele kragman gewys is hoe dit gedoen moet word, maar met die uitvoering daarvan was dit bietjie moeiliker. Eers moes hulle swaar sakke op ‘n bakkie tel en dan die bakkie trek tot oor die tou. Dit het maar moeilik gegaan met van die manne maar almal het darem geslaag om die rondte te voltooi. Daar was ook ‘n skopboks demonstrasie en ‘n “volley bal” wedstryd. Almal het die dag baie geniet.