Krieket Aandliga laaste wedstryd gespeel

THABAZIMBI – Die laaste wedstryd van die Trentyre Pro-20 Aandliga Krieket is Maandagaand 12 Oktober gespeel. Dit plaas Tyre Corp en Blue Chip in die eerste en tweede plek met onderskeidelik 26 en 19 punte. Die finaal word tussen hierdie twee spanne gespeel. In die laaste ligawedstryd Maandag 12 Oktober het Blue Chip teen Quick Civils gespeel en Quick Civils het die wedstryd gewen en 4 punte by hulle totaal gevoeg. Blue Chip het eerste gekolf en 146 lopies aangeteken. Die kolwers wat goed gedoen het was Barend met 42 lopies, Abrie met 32 en André met 29 lopies. Paul en Joggie het elkeen 2 paaltjies geneem. Quick Civils behaal die nodige lopies binne 17 beurte. Dries teken 30, Stefan 20 en Klossie 17 lopies. Barend is die beste bouler en trek twee paaltjies plat vir die verlies van 39 lopies. Die top vyf kolwers vir die liga die afgelope seisoen was Maurice van HFM met ‘n totaal van 240 lopies, Francois (Amandelbult) met 207 lopies, Guss (Tyre Corp) met 174 lopies, Barend (Blue Chip) met 171 lopies en Werner (Quick Civils) met 165 lopies. Die top bouler vir die liga die afgelope seisoen was Barend (Blue Chip) wat altesaam 16 paaltjies geneem het. Die ander top-boulers was Willem (Tyre Corp) wat 14 paaltjies, Jacques (HFM) wat 13 paaltjies, Borries Snr (Tyre Corp) wat 11 paaltjies en Ruan (Blue Chip) wat 9 paaltjies geneem het. Die puntestand na afloop van die laaste ligawedstryd wat gespeel is, staan soos volg: Tyre Corp loop voor met 26 punte, Blue Chip is tweede met 19, HFM derde met 18, Quick Civils vierde met 17 en Amandelbult, Swartklip en Bike Shop saam vyfde met 4 punte elk. In die New Ware Sosiale Liga het TC Mining teen Koedoeskop gespeel en die wedstryd gewen. Koedoeskop het eerste gekolf en teken 108 lopies aan. Gerhard het 39 en Gustav 20 lopies aangeteken. Hennie het goed geboul en twee paaltjies geneem vir die verlies van 6 lopies. TC Mining teken die verlangde lopies binne 18 beurte aan met Theo wat 29 lopies, Hein 19 en Hannes 16 lopies aanteken. Coenraad, Hannes en Tiaan het goed geboul. Die voorlopers in hierdie liga is Laerskool 1 met 12 punte. Tweede is HFM 0/15 met 8 punte en derde TC Mining met 8 punte. Makoppa en Koedoeskop JB het nog geen punte aangeteken nie.