Ellisras Wild studiegroep vereer top wildboere
LEPHALALE – Tydens ‘n gesellige dinee om die einde van nog ‘n jaar in die Bosveld te vier, het die Ellisras Wildstudiegroep op Lephalale hulle jaarlikse toekennings gedoen. Vir die voorsitter, mnr Neels Troskie, is dit belangrik om wildboere en jagondernemers te beloon vir hulle insette en harde werk om van hierdie bedryf ‘n sukses te maak. Onder omstandighede wat in die algemeen nie baie suksesvol is vir die wildbedryf nie, is dit deesdae nie so maklik nie. Die Wildboer van die Jaar vir 2007 is mnr Hardus Steenekamp van die plaas Elandsbosch in die Steenbokpan- omgewing. Hy boer al jare lank met wild, en het ook ‘n tydjie gelede met eksotiese wildsoorte soos buffels begin teel. Hardus is ‘n groot voorstaander van grondbewaring en volhoubare benutting van voedselbronne vir vee en wild. As jagondernemer van die jaar vir 2007 is mnr Philip Bronkhorst van Philip Bronkhorst Safaris aangewys. Philip is ‘n bekende in die jag en wildbedryf en jag met Amerikaners en Spanjaarde, om maar net enkele nasionaliteit te noem. Elke nuwe lid het ‘n bewys van lidmaatskap en ‘n sertifikaat ontvang. Verder het die groot groep lede en gaste rustig saamgekuier om ‘n besige seisoen op ‘n hoë noot af te sluit.