General

Droogtehulp – liewer laat as nooit

Helena Botha

Sedert April vanjaar spook lede van Agri SA en amptenare van die Limpopo Departement van Landbou om die goedgekeurde droogtehulp ‘n werklikheid te maak. Volgens die MEC is die goedgekeur, maar fondse moes gevind word om dit tot uitvoere te bring. Dit het skynbaar nou gebeur. “Liewer laat as nooit,” is sommige boere se gevoel. Baie boere is egter bekommerd dat die hulp nie toegestaan sal word nie omdat die area tans in ‘n tipe groen-droogte is. Na wisselende goeie reëns in September gevolg deur hoë temperature, lyk die bosveld bedrieglik groen. “My beeste is nou op hul maerste,” erken een boer wat nog geen opvolg reën ontvang het nie. Alhoewel bome mooi groen is en daar op die meeste plekke ‘n grone grondbedekking in die vorm van pioniersbossies is, is daar nog bitter min nuwe gras. Mnr Vic Kleyngeld, departementele amptenaar in beheer van die projek, het begrip hiervoor. Die rede waarom hy voortgaan met droogtehulp, is juis om boere die geleentheid te gee om hulle veld ‘n kans te gee op herstel. Dit is ‘n uiterse kritiese punt met die oog op voeding van diere deur die res van die somer en volgende jaar se winter. Boere, ook kommersiële boere, kan aansoek doen vir hulp deur ‘n vorm in te vul en aan die plaaslike Dept. van Landbou te stuur. Inspeksies sal dan gedoen word om die stand van die veld en die aantal diere op die weiding te evalueer. Wanneer dit goedgekeur is, gaan die aansoek Polokwane toe, waar die Dept. dit sal goed- of afkeur. Daarna kan boere met suksesvolle aansoeke voer koop by goedgekeurde handelaars met in ag name van die subsidie. Die bedoeling van die droogtehulp is om boere by te staan om ‘n kernkudde te behou. ‘n Boer kan dus aansoek doen vir hulp vir ‘n derde van die toegelate grootvee-eenhede (GVE) op sy grondgrootte vir die gebied. Thabazimbi se langtermyndrakrag is tussen 6 en 8 hektaar per GVE. In die Lephalalegebied bv. is dit 12 hektaar per GVE. ‘n Boer met ‘n plaas van net oor ‘n 1000 hektaar, mag dus aansoek doen vir hulp vir 30 GVE. Neem in ag dat ‘n mediumraam bul 1.38, ‘n koei met ‘n klein kalfie 1.59 GVE verteenwoordig en die diere lyk al hoe minder. Hulp word toegestaan tot ‘n maksimum van 50 GVE. Boere word gepenaliseer vir oorbeweiding en dus ook die aanhou van meer as die toegelate getalle op hul grond. Dieselfde reëls geld ook vir kleinboere. ‘n Subsidie van 90% word bewillig vir kleinboere met ‘n totale kudde van minder as 30 GVE, 80% vir mediumboere met ‘n totale kudde van tussen 30 en 50 GVE en ‘n 70% subsidie aan grootskaalse boere met meer as 50 GVE. Vorms is beskikbaar by kantore van die Dept, voorligtingstasies en georganiseerde landbou.