Sport

Driekamp vir groot en klein

THABAZIMBI – Klein en groot van Thabazimbi het deelgeneem aan ‘n driekamp- kompetisie wat die afgelope naweek in Potchefstroom plaasgevind het. Die jongste plaaslike deelnemer was die 7-jarige Janré Combrink wat vierde plek behaal het in sy ouderdomskategorie. Die ander deelnemers van Thabazimbi was almal lede van Active Life Gym. Hulle is André du Toit (1uur:09), Wilma Pienaar (1uur:20) en Luzaan Combrink (1uur:33). Ian Pienaar (13) en Karia du Toit (11) is nog twee jong deelnemers wat in hul ouderdomsgroep deelgeneem het. Die driekamp is vir drie verskillende ouderdomme aangebied met ‘n Junior Energade reeks vir kinders tussen die ouderdomme van 7 en 13 jaar. Dit is die eerste maal dat jong kinders die geleentheid kry om ook deel te neem aan driekamp. Die gedagte het ontstaan by ‘n bekende in Ysterman-kringe, Reinardt Rissik, wie se eie kinders jonk is, en wat graag wou hê sy kinders moet ook geleentheid kry om deel te neem. Volgens Luzaan Combrink, bekende sportvrou van Thabazimbi, was die driekamp vir kinders nie moeilik of gevaarlik nie, en kan ouers saam met kinders tot in die water gaan as hulle dit sou verkies. Sy sê dit is baie belangrik om kinders van jongs blootstelling en liefde vir alle sportsoorte te help ontwikkel. Die sewe- en agtjariges se driekamp-wedloop het 25m swem, 1,5km fietsry en 400m draf behels. Die ouer kinders moes 25m swem, 2,5km fietsry en 600m draf. In die oop afdeling, almal bo 13 jaar, was die afstande groter: 600m swem, 20km fietsry en 5km draf. Volgens Thabazimbi se deelnemers aan die driekamp was die kompetisie goed beplan en georganiseer. Daarom wil hulle die kinders van Thabazimbi sterk aanraai om deel te neem aan die volgende driekampbyeenkomste. Hierdie kompetisie het deel gevorm van ‘n reeks van vier, waarvan die eerste twee in Germiston en Potchefstroom plaasgevind het. Nog twee vind plaas; die eerste sal op 25 November by Roodeplaatdam plaasvind en die laaste by Vereeniging op die Vaalrivier op 2 Desember. Vir verdere navrae kan Active Life Gym geskakel word by (014) 777-1735. Die Potchefstroomse driekamp-byeenkoms word eerskomende Saterdag op Supersport 1 uitgesaai.