Bosveldliga Kampioenskap op Thabazimbi se baan
THABAZIMBI – Die Bosveldliga se Kampioenskap is die naweek op Thabazimbi Gholfklub se baan gespeel. Dit was ‘n individuele Stableford kompetisie. Een van die plaaslike spelers, Mike Nortje speel kookwater gholf en wen met 45 punte. Van die ander wenners, almal besoekers, het P Meiring (41), C de Beer (41) en L van der Merwe (40) die beste gevaar. Eerskomende Saterdag is die jaarlikse besoek van die Gauteng Noord Gholfunie. Die klub verwag hulle teen so agt uur die oggend, waarna hulle ontbyt saam met Thabazimbi Gholfklub komitee sal geniet. Daarna word daar gholf gespeel. Na die gholf word die laaste vergadering van die GNGU gehou. Volgende Saterdag 24 November is die klub se jaareind funksie. Dit is ook die dag waar daar net met drie stokke, waarvan een ‘n setstok moet wees, gespeel word. Dit is ook die dag waarop die baanmeester sy wraak op al die ou kla-kouse kan neem. Op so ‘n dag behoort al die klub se lede te kom speel. Die tyd van grasie ten opsigte van die toevoer van tellings is nou ook verby. ‘n Speler wat in die toekoms nie sy telling toevoer nie sal gepenaliseer word. Die nuwe voorgee kaarte is by Irma by die klub beskikbaar. Die ou kaarte sal na die einde van die maand nie meer gebruik kan word nie. Die meeste van die klub se lede het wel al by die nuwe reëling ingeval maar daar is steeds nog enkelinge wat nie saamwerk nie.
