Unieke nuwe voëlboek
Die eerste boek in ‘n nuwe reeks Suid-Afrikaanse streekvoëlgidse is op 3 Oktober 2007 by die Pietersburg Voëlklub en op 9 Oktober 2007 by die Naboomspruit Voëlklub vrygestel. Die skrywers is die bekende kenners van inheemse voëls, Saartjie Kidson en Herman van Niekerk, bygestaan deur ander kundiges soos Jo Grosel, Derick Engelbrecht, Josef Heymans, Kobie Raijmakers, Mich Veldman en Warwick Tarboton. Die boek se naam is “Kitsgids tot Voëls van die Bosveld” en sluit alle voëls in wat noord van Pretoria en tot by Pietersburg, en van die Botswanagrens tot aan die Oostelike Platorand gevind word – 468 spesies. Die Engelse weergawe staan bekend as “Spotter’s Guide to Birds of the Bushveld”. Daar is reeds ver gevorder met die volgende boek in die reeks, naamlik oor die voëls van die Laeveld. Die boek is ten volle deur Birdlife South Africa geakkrediteer en is deur SASOL opgeneem in sy reeks van Suid-Afrikaanse voëlboeke. Die konsep is dat die voëlgidse enige persoon, hetsy nuweling voëlkyker of gesoute kyker, help om binne 60 sekondes enige voël te identifiseer met behulp van nuwe praktiese en innoverende hulpmiddels in die boek. Daar is ook ‘n elektroniese weergawe van die boek beskikbaar vir die tuisrekenaar met meer as 350 voëlklanke op. Die boek is hoofsaaklik daarop gemik om voëls vinnig te kan uitken en te identifiseer aan hulle visuele kenmerke en gewoontes, wat met ikons en minimum teks beskryf word. Die innoverende gedeeltes van die gids is die Profielgids/Shapefinder, waar voëls in groepe ingedeel is op sterkte van visuele kenmerke bv langwerpige lyf, krom snawels, lang bene, kuiwe op koppe ens. Dit word aangevul deur Dueldex, ‘n tweetalige inhoudsopgawe waar in beide Afrikaans of Engels na die voëlsoort se naam gesoek kan word. Die ikons word op ‘n flappie aan die voorblad herhaal, wat dit moontlik maak om hierdie flap soos ‘n boekmerk te gebruik, en die beskrywings altyd byderhand te hê. Laastens is daar ‘n sakkie agter in die boek waar die onontbeerlike voëlmerklys gebêre kan word. So ‘n merklys kan afsonderlik bestel word. Verdere kenmerke van die boek is dat dit 192 bladsye beslaan met 829 volkleurfoto’s. Dit is in handige sakgrootte met ‘n weerbestande omslag. Tydens die skryf van die boek moes die skrywers heelwat nuwe voëlterme in Afrikaans skep wat nog nie bestaan het nie, bv verkensit vir “perch”, veerkouse vir “leggings”, dobber vir “head-dip”, lugjag vir “hawking” en Vaalbontjies vir “LBJ’s”. “Dit is eerstens verblydend dat ons ‘n voëlgids kon daarstel wat deur invloedryke rolspelers in die bedryf soos Birdlife South Africa en SASOL aangegryp is, en tweedens dat daar soveel vernuwende konsepte in is wat dit laat uitstaan van enige ander voëlboek op die rak” het Herman van Niekerk, mede-outeur, tydens die bekendstelling gesê. “Waar voëlkyk tans wêreldwyd die vinnigste groeiende tydverdryf is, gekoppel aan ontspanning en ‘n gesonde leefwyse, is hierdie die ideale boek of geskenk om die genot van voëlkyk mee te ervaar”.