Entertainment

Pretrit kwalifiseer vir die sosiale kalender

Tobie Lombard STEENBOKPAN – Die NG Kerk Limpopo gemeente se tweede 4×4 veldfiets pretrit het oud en jonk se verwagtinge ver oortref. Hierdie pret geleentheid kwalifiseer beslis as een van die sosiale byeenkomste van die jaar wat ‘n mens doodeenvoudig móét bywoon. Die brullende gevaartes het die adrenalien deur deelnemer en toeskouer se are warm laat pomp. Verlede jaar het 75 motorfiets entoesiaste weggespring. Vanjaar het 106 deelnemers van heinde en ver aangetree vir die afsitter se pistoolknal. Deelnemers van Secunda, Vereeniging, Rustenburg, Thabazimbi, Ellisras en Brits is opgemerk. Net na nege Saterdagoggend het die brullende gevaartes vanaf die Pub & Grill op Steenbokpan weggespring. Ordelike wanorde het geheers. Die vinnige waaghalse het gou ver voorgetrek terwyl die meer besadigde ryers rustig die lang pad aangedurf het. Soms is gevrees vir ‘n groot ongeluk maar die jonger geslag het gou gewys dat hulle die gevaartes se meester is. Die roete oor 120 kilometer het begin op die Glenoverpad en daarna oor die plaas Rooiboklaagte van mev. Anna van Niekerk, Oxford en Tweeriviere tot by die Limpopo rivier waar die moeë deelnemers heerlik baljaar het. Op Rooiboklaagte het ‘n modderbad die deelnemers ingewag. ‘n Paar verstandige deelnemers het die modder vermy maar daar was wel ‘n hele paar avontuurlustiges wat tot groot vermaak van die toeskouers die poel aangedurf het. Een van die heel eerste waaghalsiges het kop oor gat in die poel neergeslaan. Met groot bravade is hy die poel uit – net om in ‘n ysterpaal vas te jaag. Gelukkig is hy nie beseer nie. Op Steenbokpan het die vroue van Limpopo NG Kerk deelnemers en besoekers ingewag met die allerheerlikste snoeperye. Die deelnemers is nou wel die oggend met gratis toebroodjies en koffie verras maar die middag was dit uithaal en betaal – vir ‘n goeie doel natuurlik. Die voorslag vroue het reeds Maandag met vleisbewerking begin. Een hele bees, een Koedoe, twee skape en ‘n vark is geslag. Wors en sosaties uit die boonste gestoeltes het die honger skare se eetlus geprikkel. Potbrood, slaaie, wildshamburgers, rooster- brood en dosyne koeldrank het darem gehelp dat almal se magies vol word. Die nou uiters gewilde pretrit het verlede jaar op ‘n heel spontane wyse ontstaan. Daar is toe nie vreeslik georganiseer nie maar vanjaar was dit ‘n fiets van ‘n ander kleur. Ellisras Toyota se Don Emslie was die hoof borg en het hulle nie uitgehaal en gewys nie! Twee motorfietse is geskenk en vir duisende rande op ‘n spesiale veiling verkoop. ‘n Handgemaakte jagmes van Koos Herselman het ‘n allemintige R1550 behaal. Een bywoner het die twintig tuinslange wat te koop aangebied is almal opgeraap teen R320 stuk! Dit terwyl die produk in die handel teen R120 beskikbaar is. Dit is ‘n aanduiding van die gemoedelike gees wat geheers het. Die dag is afgesluit met ‘n gaskunstenaar wat oud en jonk vermaak het. Ds. Johnny de Clerk, leraar van die gemeente het sy tevredenheid uitgespreek. Die lidmate het hard gewerk want dit was ‘n moeilike organisasie. Veiligheid, voedsel, vermaak en ‘n duisend en een dinge is onder die loep geneem en die eindresultaat was ‘n reuse sukses. Ds. De Clerk het die gemeentelede bedank en ook die mense wat die dag bygewoon het. Steenbokpan, eintlik maar net ‘n kruising in die middel van nêrens met nie meer as 20 geboue nie, sal nooit weer dieselfde wees nie. Tot volgende jaar…