General

Ouma van Setaria wen met “Pretty Things . . .”

THABAZIMBI – ‘n Ouma van Setaria het landswyd tweede gekom (en eerste in Limpopo) in ‘n kompetisie wat deur Shoprite en Checkers geborg is. Vir dié kompetisie, genaamd “Pretty things for little things”, word ouer mense uitgedaag om speelgoed, klere en komberse vir minder bevoorregte kinders te maak vir die Kersseisoen. Die wenner van Setaria is me Mary McCarthy, wat in haar sewentigs is – al sal mens nooit so sê nie. Sy het 15 verskillende sagte speelgoed gemaak en sê dat sy vuur en vlam is vir volgende jaar wanneer sy nóg meer wil maak. Vir haar pryse hierdie jaar het sy reeds altesaam R5000 se geskenkbewyse van Shoprite ontvang: R2000 vir die eerste prys in Limpopo en R3000 vir haar tweede prys landswyd. Daar is ook ‘n derde merietetoekenning aan haar gemaak deur Age-in-action vir die feit dat sy so baie, nl 15, speelgoed ingestuur het. Die waarde van die merieteprys is egter nog nie bekend gemaak nie. Volgens Shoprite is daar verlede jaar 5000 van hierdie speelgoed versprei.