General

Marimba vir Laerskool

THABAZIMBI – Vier onderwysers van Laerskool Thabazimbi het Saterdag geleer om die marimba, wat pas deur die skool aangekoop is, te bespeel. Mev Joan Lithgrow van Johannesburg, wie se man die marimbas maak, het die onderwysers in ‘n japtrap geleer om’n paar deuntjies te speel en Maandag was daar reeds ‘n “uitvoering” tydens saalbyeenkoms. Die wonder van die instrument lê daarin dat dit as remedierende hulpmiddel gebruik kan word, veral vir die kinders wat ‘n probleem met middellynoorkruising het. Dit is ook baie maklik om te leer speel: dus nie net vir diegene met ‘n musiekaanleg nie. Volgens me Cecile Venter kan enige leek reeds binne die eerste les ‘n redelik gevorderde stukkie musiek baasraak. Hierdie spesifieke marimba is ‘n 3 en ‘n half-oktaaf marimba, wat beteken dat drie leerlinge gelyktydig daarop kan speel. Daar word beoog om ook ‘n bas-marimba ter waarde van R7000 aan te koop, maar donasies hiervoor moet verkry word. Volgens mevv Venter en Marieta Bean sal die instrument vir Kuns- en Kultuurperiodes ingespan word en later om ‘n Orff-orkes op die been te bring. ‘n Orff-orkes het ook metalofone, xilofone, glockenspiel, driehoeke, klokkies en tromme. Die marimba is ‘n instrument wat deur swart mense in Afrika bespeel word. Dit is groter as ‘n xilofoon, maar is ook van hout gemaak. Die stafies is breër en word met ‘n stokkie met ‘n rubberkop bespeel. Dit gee aan die instrument ‘n besonderse Afrika-klank. Die onderwyseresse van die laerskool wat almal die naweek die marimba leer speel het, was mevv Venter, Bean, Gerda Eloff en Elmarie Wentzel.