Lekker gholf nieteenstaande swak opkoms
THABAZIMBI – Omdat die finaal van die Interaksie Gholf na volgende jaar verskuif moes word is daar verlede Saterdag gewone IPS gespeel. Die opkoms was teleurstellend maar daar is nogtans goeie gholf gespeel. Die wenner met 40 punte was Sam Mumano. Alta Venter (38), Ettiene le Roux (37) en Hendrik van Niekerk (36) was die ander wenners. Die nuwe voorgee-kaarte het uiteindelik gekom en lede moet dit maar so gou moontlik by die klub by Irma afhaal. Spelers wie se ledegeld nog nie betaal is nie se kaarte is reeds gekanselleer en sal net uitgereik word na betaling. As u ledegeld opbetaal is, is daar geen verdere koste verbonde om ‘n nuwe kaart te kry nie. Indien dit nie binne ‘n maand gebeur nie sal die kaarte terug gestuur word en sal u van vooraf om lidmaatskap moet aansoek doen en ook die bykomende intreefooi moet betaal en dalk nog ‘n maand vir ‘n nuwe kaart moet wag. Met die nuwe stelsel wat nou landswyd in werking is sal u by geen ander klub kan speel as u nie u kaart geswiep het nie. Die ou NGN-kaarte word nou outomaties deur die stelsel gekanselleer. Die kroegpersoneel het streng opdrag dat net spelers wat hulle kaart geswiep het teen die regte fooi sal speel. U samewerking word gevra. Ledegeld was reeds teen einde Junie betaalbaar maar lede het tot einde Oktober die geleentheid gehad om te betaal, of reëlings met die klub te tref. Uitstaande ledegeld het aan die einde van Oktober bykans R50 000,00 beloop. U bly lid van die klub en is wetlik aanspreeklik vir die ledegeld totdat u skriftelik bedank het. Van ons lede het die afgelope paar dae traumatiese ervarings gehad. Piet Vorster se Mercedes het op Rustenburg net verdwyn terwyl hulle inkopies gaan doen het. Jannie van Graan het sy enkel gebreek en Daan Lotheringen het ‘n heupvervanging ondergaan. Sterkte en beterskap word almal toegewens. Die bouwerk om bof No 16 te vergroot is nou klaar en sal binne die volgende week opgevul word. Bof No 5 is ook feitlik klaar en sal ook weer binne ‘n week of twee in spel wees. Baie dankie aan Daan Lotheringen vir die bouwerk en Piet Vorster wat help met die aanry van die grond om op te vul. Die jaar snel nou vinnig ten einde. Daar is egter ‘n paar belangrike datums wat u in gedagte moet hou. Saterdag 10 November is dit die Bosveldliga se afsluiting op ons baan. Die baan sal dan gesluit wees aangesien daar 801 spelers verwag word. Saterdag 17 November is die Gauteng Noord se Gholfkomitee weer hier by ons. Die baan sal dan ook redelik vol wees en lede wat wel wil speel sal vroegtydig moet inskryf aangesien daar net ‘n paar oop plekke gaan wees. Die klub sluit die jaar se gholf af op Saterdag 24 November met Gekkedag. Dit is die dag waar daar net met twee stokke plus ‘n setyster gespeel mag word. Die Pick ‘n Pay Sundowner gaan nog elke Woensdagmiddag gespeel word. Hierdie beriggies wat weekliks deur die Kwêvoël geplaas word is ‘n poging om die lede op hoogte van die klub se bedrywighede te hou. Die Komitee probeer om so ook die lede wat nie so gereeld speel nie se belangstelling te prikkel en te hou. Lede wat die moeite doen om dit te lees word vriendelik gevra om maar asseblief ook hulle samewerking te gee. Thabazimbi Gholfklub het so ‘n mooi baan en gholf is hier nog so bekostigbaars. Kyk net na al die verbeterings wat die Komitee die afgelope jaar met beperkte fondse gedoen het en ondersteun jou klub.