Laaste bio-diesel kursus vir 2007
Lede van TLU SA Noord en ander belangstellendes word uitgenooi na die laaste Biodiesel kursus vir 2007. Die kursus word Dinsdag 27 November 2007 op Cullinan naby Pretoria aangebied. Mnr. Fred Evans, ‘n gekwalifiseerde chemiese ingenieur sal as opleier optree. Evans vervaardig self al die diesel wat hy in sy voertuie gebruik. Van die hyskraan tot die swaarvoertuie en ook sy persoonlike bakkie gebruik vir jare reeds bio diesel. Opleiding kos R 500 vir lede van TLU SA en R 1000 vir nie–lede. Dit sluit ‘n middagete en tee in. Registrasie vind die oggend van die opleiding plaas. Persone wat belangstel kan Wilma skakel by 015 297 3749. Laboratorium toerusting met ‘n volledige stel instrumente wat nodig is om biobrandstof te vervaardig sal te koop aangebied word. Die koste van die laboratorium toerusting hang af van die prys van metanol maar behoort nie meer as R 2000 per stel te wees nie. Volgens mnr Dries Joubert, voorsitter van TLU SA Noord wil dit voorkom asof die olieprys nie maklik weer onder $70 per vat sal daal nie. Dit beteken dat Suid Afrikaners hul moet gereed maak dat die prys van brandstof, en veral diesel, nie maklik laer as R 6.50 per liter sal daal nie en die verwagte prys is nader aan R 10.00 per liter. Hyself het begin om biodiesel te vervaardig toe die dieselprys R 3.00 per liter diesel was. Afhangende van die koste van die bron, behoort een liter biodiesel nie meer as R 2.50 per liter te kos nie. Dit dui op ‘n groot besparing op die insetkoste van enige boerdery. TLU SA Noord is in gesprek met D1 Oils, een van die grootste vervaardigers van biobrandstof, om Jatropha curcas plantasies aan te plant. D1 Oils het toestemming van die Nasionale Departement van Landbou ontvang om 500 ha Jatropha curcas in Limpopo aan te plant. Die projek word aangepak saam met die CEF (Central Energy Fund) en die Nasionale Departement van Landbou. Lede wat belangstel om aan die projek deel te neem kan die Streekkantoor skakel by 015 – 297 3749. Joubert het gesê dat dit tyd is om onafhanklik te raak van regeringsbeheerde brandstof. Die lande wat olie bronne beskikbaar het, maak verstommende hoeveelheid wins uit die natuurlike hulpbron – wins wat nie altyd tot voordeel van die bevolking aangewend word nie. Die Suid-Afrikaanse regering belas brandstof tot so ‘n mate dat die gewone burger dit byna nie meer kan bekostig nie. Belasting wat ook nie noodwendig tot die voordeel van die hele bevolking aangewend word nie. Hy sê dat die PetroSA skandaal is ‘n bewys daarvan. Lede en ander belangstellendes wat beter beheer oor hul geld wil uitoefen en minder afhanklik van gierige politici en selfsugtige oliemaatskappye wil word, word uitgenooi om die opleidingskursus by te woon. Die vervaardiging van biodiesel plaas die beheer weer in die gewone burger se hande. Die omgewingsvriendelike projek is volhoubaar en verseker dat die wat die moed aan die dag lê om die opleiding te doen, nie weer hoef te vrees wanneer swak regering en gierigheid die beskikbaarheid van brandstof aan bande lê nie.
