Feestyd begin met, sover, twee plaasmoorde
TLU SA Noord, het met skok en hartseer kennis geneem van die wrede en sinlose moord op wyle Mnr. Magiel de Lange, in sy sewentiger jare, van Dorset naby Vaalwater. Mnr Dries Joubert, voorsitter van TLU SA Noord het sy hartseer en medelye met die familie en vriende van wyle Mnr de Lange betuig. Oom Magiel het in Vaalwater grootgeword. Hy was ‘n baie stil, rustige mens wat nie maklik kwaad geword het nie. Sy pa het ook in die gebied geboer en oom Magiel was sy lewe lank ook ‘n boer. Hy het ‘n rukkie terug besluit om af te tree. Joubert het gesê dat die Feestol reeds op twee staan. Mnr Piet Smit is verlede week sinloos vermoor. Hy sê dat sosiale terroriste juis die tyd wat veronderstel is om vredevol en rustig te wees gebruik om hul duiwelswerk te doen. Lafhartige sosiale terroriste wat werkloosheid as verkoning gebruik, terroriseer gemeenskappe en vermoor onskuldiges. Die twee moorde is waarskynlik ook nie die laaste die feestyd nie. Volgens mnr Magiel Reinecke, voorsitter van TLU SA Noord Veiligheidskomitee, word die Steunkringe en Groenlig patrollies aangemoedig en gevra om ook na die kwesbares in die gemeenskap om te sien. Bure word ook aangemoedig om op ‘n gereelde basis met mekaar kontak te hou. Sosiale terroriste sien juis die kwesbares en weerloses as maklike teikens. Joubert het gesê dat TLU SA Noord gemeenskappe aanmoedig om steunkringe in plek te stel, te versterk en uit te bou. Die Feestyd, ‘n tyd vir Christene om hulself te verootmoedig, word deur sosiale terroriste gebruik om gemeenskappe te verskeur. Hulle is terroriste wat geen genade toon nie. Mnr. Joubert het lede en hul gades aangemoedig om hulself te beveilig. Mnr. Joubert het gesê dit word tyd dat gebiede, soos in Pretoria, afgesper word om sosiale terroriste uit te hou en gemeenskappe te beveilig.