Lang tou by lisensiekantoor

THABAZIMBI – Die ry vir mense wat gehoop het om by die Verkeersdepartement geholpe te raak, was Maandag so lank dat dit al om die parkeerarea, verby die ingang van die drankwinkel daarnaas gestaan het. Meer as 170 mense is teen halfnege die oggend getel. Meeste was jongmense wat afsprake vir leerling- of bestuurderslisensies wou maak. Die mense voor in die ry wat eerste arriveer het, wag al sedert 01:30 in die oggend. Heelwat van die aansoekers vir leerling- en bestuurderslisensies kom van ver, soos Pretoria, Brits, Hartebeespoortdam of Ellisras. Soos een van die jong dames in die ry gesê het: dit was die eerste keer wat sy haar voete in Thabazimbi gesit het. Thabazimbi se stelsel, volgens hulle is baie meer aanvaarbaar as dié waar hulle vandaan kom. Afsprake vir lisensies word teen die einde van elke maand vir die maand wat voorlê gemaak, in hierdie geval vir November. Wanneer besprekings vir November vol is, gewoonlik binne vier dae, word geen verdere afsprake gemaak nie tot die einde van November. Maandag was die eerste dag wat die besprekings vir November geopen het. By ander plekke, blyk dit, is dit feitlik onmoontlik om betyds ‘n afspraak te kry indien bestuurderlisensies binne twee maande verval. By sekere verkeersdepartemente moet in ‘n tou gestaan word om op ‘n waglys geplaas te word om aansoek te doen. Dan mag die betrokke verkeersdepartement nie binne vier weke gekontak word om te hoor of hulle mag aansoek doen nie. Een jong dame was op vier ander waglyste, Thabazimbi was haar vyfde probeerslag. Volgens die mense in die tou, sou daar nog meer mense gewees het as die matrikulante nie Maandag Afrikaans geskryf het nie. Daar is blykbaar ook ‘n nommer waar mense wat dringend geholpe moet raak, kan bel, maar dié werk ook nie. Ander verkeersdepartemente word beskuldig van onregverdige beoordeling wanneer die mense vir hul bestuurderslisensies getoets word, terwyl Thabazimbi as “streng, maar mens” beskryf word. Afsprake by ander verkeersdepartemente word gemaak, maar die toetsing vind eers in Januarie of Februarie volgende jaar plaas. Een jong man het aangedui dat hy vir sy werk sonder volwaardige lisensie bestuur, bloot omdat hy so sukkel om geholpe te raak. Volgens werknemers by die Verkeersdepartement word hulle oorval omdat hulle net ‘n maand vooraf besprekings neem, omdat meer mense wettige lisensies wil hê en die al-groter-wordende bevolking. Die besprekings word nie met die eNaTIS-stelsel gedoen nie, maar per dagboek. Dit mag in die nabye toekoms verander, wat hopelik die besprekingsproses sal verhaas. Hulle het laat blyk dat besprekings vir leerling- en bestuurderslisensies as gevolg van die groot aanvraag hierdie maand miskien vir November én Desember gedoen sal word.

Want to Receive Weekly Kwevoel Updates in Email?

We don’t spam! Read our privacy policy for more info.