Krieket Aandliga uitslae
THABAZIMBI – Blue Chip het op Woensdag 24 Oktober teen Swartklip gespeel en gewen. Swartklip het eerste gekolf en is uitgehaal vir 84 lopies. Kolwers wat presteer het was James met 29 en Robert met 12 lopies. Die boulers wat lopies beperk het, was Barend met 4/21, Ruan met 3/26 en Albertus met 3/9. Hierna het Blue Chip gekolf en 85 lopies aangeteken in 11 beurte sonder die verlies van ‘n paaltjie. Barend het 41 en Ruan 18 lopies aangeteken. Blue Chip verdien 5 punte vir sy oorwinning. Op Donderdag 25 Oktober het Quick Civils Amandelbult gewen en vier punte verdien. Quick Civils het eerste gekolf en 159 lopies aangeteken. Dries (42 lopies), Werner (30 lopies) en David (22 lopies) het goed voor die penne gevaar. Robert van Amandelbult het 2 paaltjies geneem en 32 lopies afgestaan. Amandelbult is in hul kolfbeurt beperk tot 151 lopies. Brian het 33, Faan Peer 21 en Donald 18 lopies aangeteken. Stefan met 5/15 en Dries met 2/34 het goed geboul. Blue Chip het Maandag teen The Bike Shop gespeel en 6 punte ingepalm vir hul oorwinning. The Bike Shop het eerste gekolf en is uitgehaal vir 90 lopies. Theuns, met 21 lopies, en Wynand, met 12 lopies, het goed gekolf. Ruan het 4 paaltjies vir die verlies van 20 lopies en Barend 4 paaltjies vir die verlies van 15 lopies laat kantel. Blue Chip het die verlangde 90 lopies in 13 beurte aangeteken. Etienne het 23, Barend 17 en André 16 lopies aangeteken. Stefan van Bike Shop het goed geboul en 2/24 geneem. Tyrecorp het Swartklip Dinsdag 30 Oktober gewen en vyf punte behaal. Tyrecorp was eerste voor die penne en teken 200 lopies aan. Brand behaal 72 lopies, Gus 37 en Willem 36. James, Willem, Noddy en Danie neem elk een paaltjie. Swartklip word uitgehaal vir 71 lopies. Robert teken 27 en Coenie 10 lopies aan. Borries laat vier paaltjies kantel vir slegs 11 lopies, Willem neem 3/19 en James 2/18. Volgens die puntestand loop Tyrecorp voor met 22 punte, HFM is tweede met 18 punte, Blue Chip is derde met 15 punte, Quick Civils vierde met 13 punte, Bike Shop saam met Amandelbult en Swartklip vyfde met 4 punte elk. In die New Ware Sosiale liga loop die Laerskool 1 voor met 12 punte, HFM 0/15 is tweede met 8 en TC Mining derde met 4 punte. Makoppa en Koedoeskop JB het nog geen punte aangeteken nie.