Gesellige jaareindfunksie vir Thaba Rugbyklub
THABAZIMBI – Thaba rugby se jaar het amptelik rem aangedraai na Saterdag se jaareindfunksie by Thaba Nkwe. Soos gewoonlik was dit ‘n uithaler geleentheid waar Thaba se rugby spelers en hulle families getrakteer was met ‘n skaap en vark spitbraai langs die swembad by Thaba Nkwe. Die bykosse is verskaf deur Thaba Nkwe en die dag en aand was uitstekend gereël en aangebied. Riaan Pretorius, Thaba rugby voorsitter, het in sy spreekbeurt Thaba rugby se hoogtepunte vir die jaar uitgelig en daar was heelwat. Eerstens het Thaba se tweedespan vir die 2de jaar agtereenvolgens die liga gewen. Dan het die klub ook spelers gehad wat verskeie provinsiale spanne verteenwoordig het. Jan Davel en Kobus Baard het die Limpopo Amateurspan gehaal en in Rusland gaan toer. Cobus Oosthuisen het die Plattelandspan gehaal en verskeie wedstryde vir die span gespeel. Joe Grobbelaar, Borries Bornman en Rory Cresswell het die Limpopo 0/23 span gehaal en Joe was ook die kaptein van die span. Jan Engelbrecht het die Waterberg 0/23 span afgerig wat die Limpopo sub -unie week gewen het en is ook aangewys as hulp-afrigter van die Limpopo 0/23 span. Verskeie trofeë het ook nuwe base tydens die geselligheid gekry.