Bekende in rugby tree uit
THABAZIMBI – Die bekende agtsteman in rugbykringe, Cobus Oosthuizen, het na vele suksesse besluit om die rugbytuig neer te lê. Maar nie net die rugby verloor hom nie, maar ook die dorp. Hy verlaat Thabazimbi aan die einde van die jaar en gaan hom in Kleinmond vestig. Gevra oor sy sukses wat hy behaal het, sê hy dat sy talente van die Here kom en alle eer Hom toekom. Sy roemryke rugbyloopbaan het reeds in die laerskool begin toe hy die Noord-Transvaal span gehaal het. Ook op hoërskool het hy provinsiaal gespeel. Daarna het hy vir die Vaaldriehoek 0/21 uitgedraf en vir Oos-Transvaal 0/23’s vir twee jaar. Daarna was hy die Noord-Transvaalse Seniors Klubkampioene se kaptein. Vir SA Weermag en Lugmag het hy die spanne gelei as kaptein en daarna was hy ook SA Iscor kaptein. Centurion Rugby Club in Engeland het hom vir ‘n jaar gekontrakteer om vir hulle te speel. Hierna het hy uitgewyk na die bos waar hy vir vier jaar, waarvan drie jaar as kaptein, vir Thabazimbi gespeel het. In dié tyd het hy die Waterberg drie jaar lank provinsiaal verteenwoordig. Hy is in die tyd ook vir die Noord-Transvaalse Amateurspan gekies. Hierna het hy drie jaar lank vir Amandelbult se Mining News-span gespeel. Hy het sy loopbaan afgesluit deur in 2006 en 2007 vir die Noord-Transvaalse Plattelandse Span te speel. Hy is aangewys as Sportman van die Jaar vir die Weermag in 2001 en 2002, SA Lugmag in 2003 en vir Thabazimbi in 2005 en 2006. Hoewel Thabazimbi Cobus hoofsaaklik ken as rugbyspeler, is hy ‘n “all rounder” wat SA’s ook vir ander sportsoorte behaal het. Hy het die SA Lugmagspan in muurbal verteenwoordig, die Noordwes-span in korfbal by SA’s verteenwoordig drie en ‘n half jaar gelede en was in die SA Lugmag se atletiekspan waar hy diskus, spiesgooi en gewigstoot gedoen het. Voorwaar ‘n talentvolle sportman…